Petro Marais, 'n gr.R-onderwyseres by Laerskool Oudtshoorn-Noord was betrokke in die ongeluk waarna die Outeniuquapas verlede Donderdag vir twee ure gesluit is. Vyf voertuie het omstreeks 12:30 in nat, mistige weerstoestande in mekaar vasgery.
Marais en haar seun, Dewald de Beer, was in haar rooi Alfa Romeo 156 op pad George toe waar sy 'n afspraak met 'n ortopeed gehad het. Haar man, Pieter, het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die ongeluk op 'n lang draai in die Ou-teniquapas plaasgevind het nadat die Alfa op die nat pad gegly het.
Die Alfa het teen 'n aankomende Nissan-bakkie en 'n VW Polo gebots. Marais is vasgekeer in die motor en reddingswerkers moes meganiese kake gebruik om haar te bevry. Sy is na Mediclinic George geneem waar vasgestel is dat haar bekkenbeen en drie ribbes gebreek is.
Sy het ook 'n lang sny aan haar hand opgedoen en met die ontplooiing van die motor se lugsakke het haar bril gebreek en haar 'n diep sny bokant haar oog toegedien. Haar seun het ook ribbes gebreek en sy voet beseer. Volgens haar man is sy Vrydag na Knysna oorgeplaas omdat daar vermoed is dat 'n ou nekbesering deur die ongeluk vererger is en dalk geopereer moes word. Die nekbesering was egter nie so ernstig nie en sy is Maandag na die Mediclinic Klein-Karoo in Oudtshoorn oorge-plaas waar sy tans aansterk.
Die bestuurders van die ander twee voertuie, 'n Nissan-bakkie van die George-speurders en 'n wit Volkswagen Polo van die departement van gesondheid, is ook met ernstige beserings na die hospitaal geneem vir behandeling. Behalwe vir die drie erg beskadigde voertuie, was nog twee voertuie in die ongeluk betrokke, maar die bestuurders is nie ernstig beseer nie. Die ander twee voertuie was 'n Mercedes-vragmotor van George en 'n wit Opel Corsa van Knysna. Volgens kapt. Malcolm Pojie, kommunikasiebeampte van die polisie in die Suid-Kaap word die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek.
Petro se man was in Oos-Londen tydens die ongeluk en het inderhaas huis toe gekom nadat hy van die ongeluk verwittig is. Sy werks-kontrak in Oos-Londen het ook hierdie week ten einde geloop. "Dit is eintlik 'n bedekte seën dat my werk in Oos-Londen nou klaar is, want Petro gaan maande neem om te herstel," het hy die week gesê.

Die staatsvoertuie is erg beskadig nadat hulle deur Marais se Alfa Romeo getref is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'