OUDTSHOORN NUUS - Brandon Claassen (29), ekonomie- en besigheidstudies onderwyser by Môrester Sekondêr, het Saterdag by die Oudtshoorn-banketsaal 'n toekenning vir uitnemendheid in hoërskoolopleiding ontvang.
Hy is saam met 'n aantal onderwysers uit die Eden-Karoostreek vereer en was die enigste leerkrag van Oudtshoorn wat 'n toekenning ontvang het.
As wenner van sy kategorie moet hy 7 Oktober 'n voorlegging in George gaan doen waarna hy op 8 November na Kaapstad vertrek waar die provinsiale wenners aangewys sal word.
Claassen, 'n gebore Oudtshoorniet, het sy onderwysloopbaan by Môrester Sekondêr as vrywilliger in 2013 begin en is in 2014 'n voltydse pos aangebied. Hy is nie 'n bietjie trots op sy prestasie nie en sê dat hy glad nie verwag het om te wen nie.
"'n Mens dink mos maar nooit dat jou beste waardig genoeg is om 'n toekenning van hierdie kaliber te ontvang nie." Volgens hom is hy aanvanklik deur die adjunk-prinsipaal, Belinda Muller, genomineer in hierdie kategorie, en het hy per epos eers bewus geraak dat hy op die kortlys geplaas is.
Hy moes toe 'n 35 minute lange voorlegging aan die WKOD (Wes-Kaapse Onderwys Departement) se afgevaardigdes by Langenhoven Gimnasium lewer wat die bepalende faktor sou wees of hy dié toekenning sou inpalm.
Hy vertel dat hy tans ook besig is met sy honneursstudie en dat sy druk skedule dit nie juis toegelaat het om sy volle aandag aan dié voorlegging te skenk nie. "Gedurende my voorlegging het ek egter uit my persoonlike ervaringe die afgelope sewe jaar as onderwyser uitgebrei en dit moes op die einde van die dag die deurslag gegee het."
Een van Claassen se leerders, Tuwan van Rooyen, het ook onlangs 'n Nedbank-studiebeurs gewen, terwyl nog 'n leerder in sy klas, Shawaal May, ook al 'n finansiële geletterdheid toespraak by PW Botha-kollege op George gelewer het. Saterdae bied Claassen ook ekstra ekonomiese-en besigheidstudieklasse aan. Selfs leerders wat nie aan Môrester verbonde is nie, is welkom om die ekstra klasse by te woon.
"Daar is geen beter gevoel op aarde as wanneer 'n leerder vir my sê dat my onderrig 'n verskil aan sy persoonlike lewe en akademiese punte gemaak het nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'