OUDTSHOORN NUUS - Kansa is landswyd besig om strukture, bome en ander voorwerpe met pienk lap toe te draai.
As deel van Kansa se borskanker bewusmakingsveldtog word die Pink Trees for Pauline-projek jaarliks gedurende Oktober as 'n fondsinsamelingsprojek vir dié kanker gedryf.
Kansa Oudtshoorn is deel van meer as 100 dorpe en stede wat die Pink Trees for Pauline-projek, waar pienk materiaal teen R25 per meter gekoop, ondersteun. Die materiaal kan dan om bome, pilare en strukture gebind word, om jou ondersteuning aan die bewusmakingsveldtog te bewys.
Die doel van die bewusmaking is om geld in te samel om die lewens van borskankerpasiënte en hul families effektief te ondersteun. Die pienk lap is by die Kansa se kantoor in Hoogstraat 162, Oudtshoorn, te koop. Kansa Oudtshoorn kan ook geskakel word by 044 272 2724, vir bestellings.
Ontstaan van projek
Carol-Ann van Jaarsveldt het die tragedie van haar ma en ouma, wat beide aan kanker dood is, in 'n verhaal van hoop en ondersteuning aan kankerpasiënte, verander. Van Jaarsveldt het die Pink Trees for Pauline inisiatief in haar tuisdorp, Graaff-Reinet begin. Beide haar ma en ouma se name was Pauline.
Met die ontstaan van die projek is boomstamme langs strate in Graaff-Reinet met pienk lap toegedraai.
Die materiaal word deur die meeste ondersteuners na Oktober aan organisasies wat hul beywer vir gemeenskapswerk, geskenk. Verskeie pienk produkte word dan daarvan gemaak en weer verkoop as 'n inkomste vir dié organisasies.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'