OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse Cansa Shavathon het die afgelope naweek begin en eindig einde Maart.
Dit is die 17de nasionale shavathon wat gehou is sodat almal hul ondersteuning vir die wat met kanker gediagnoseer is en die wat dit oorwin het kon toon.
Inwoners kon hul hare enige kleur laat spuit en selfs laat afskeer sodat pruike van hul hare gemaak kan word.
Volgens Adri Odendaal, projekbestuurder van Kansa se Oudtshoorn-tak, is dit 'n projek wat die hele maand aanhou.
"Ons gaan ondermeer by Laerskool Wesbank en Eljada kuier om bewusmaking oor kanker te skep en ook hulle hare te spuit. Ons nooi ander skole en besighede uit om aan die inisiatief deel te neem."
Geld wat ingesamel word, word gebruik om mense in die gemeenskap te help wat hard besig is om hul stryd teen kanker te baklei.
Odendaal sê verder dat die Shavathon nie die enigste insameling- en bewusmakingsprojek is waarmee hulle besig is nie.
Op 21 Maart bied hulle ook die Bark For Life aan.
Kankerondersteuners wat Saterdag die Shavathon ondersteun het.
"Families met hul honde kom bymekaar om 'n 1,6 km-staproete te doen om honde te ondersteun wat kanker het of wat weens kanker nie meer by hulle is nie. Daar is ook hope kompetisies waaraan die honde kan deelneem soos 'n 'Fancy Dress.' Dit is 'n heerlike uitstappie vir die hele gesin en hul viervoet-kinders."
Volgens haar word dit by die staatsveearts se kantore in Van der Rietstraat aangebied en is inskrywings R50 per hond. Belangstellendes word gevra om 'n sak hondekos of blikkieskos saam te neem wat aan Animal Care Team SA (ACT SA) geskenk gaan word.
Enigiemand wat belangstel in die Shavathon of Bark For Life kan Odendaal by 072 133 0444 skakel of e-pos na aodendaal@cansa.org.za
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'