Update
KAROO NUUS - Die skielike dood van die onderburgemeester van Prins Albert laat 'n onvervangbare leemte - nie net in sy gesin nie, maar ook in die munisipale raad en in die dorpsbestuur in die algemeen.
Stoffel Botes (48), 'n proporsionele raadslid van Klaarstroom wat in Prins Albert-munisipaliteit dien, het verlede Woensdag inmekaargesak en in die tuig gesterf, pas ná die afhandeling van 'n vergadering in Prins Albert saam met sy mede-DA-raadslede.
In hierdie stadium blyk dit dat hy weens 'n aneurisme en breinbloeding gesterf het.
Volgens die burgemeester, Linda Jaquet, het hulle pas verdaag en is almal terug na hul kantore toe 'n administratiewe werker Botes in die raadsaal aangetref het waar hy inmekaargesak het. Sydney Koonthea, 'n DA-raadslid wat ook 'n gekwalifiseerde paramedikus is, het tevergeefs nood-behandeling toegepas.
Jaquet het by navraag aan Oudtshoorn Courant gesê haar kollega was 'n uitnemende en toegewyde raadslid en onderburgemeester, en ook voorheen 'n briljante speaker.
"Hy het munisipale wetgewing op die punte van sy vingers geken, en as hy onseker was oor iets, het hy werk daarvan gemaak om uit te vind. Hy het nagelees en met kundiges op die gebied gekonsulteer. Hy het met aandag geluister en goed nagedink voordat hy 'n mening gegee of 'n besluit geneem het. Ek het hom bewonder, as mens en as munisipale kenner. Ek kon op sy ervaring en institusionele kennis staatmaak en het dikwels by hom om advies aangeklop. Ek het die volste vertroue in hom gehad en ek het altyd geweet dat hy 'n waardige verteenwoordiger van die raad is, ook wanneer hy namens my geleenthede en werksessies bygewoon het in sy kapasiteit as voorsitter van onderskeidelik die portefeuljekomitees oor gemeenskapsontwikkelingsdienste en beskermingsdienste. Een van sy verantwoordelikhede, wat hy met entoesiasme en toewyding getakel het, was gemeenskapsveiligheid. Sy ander passie was sport."
As mens onthou sy hom as 'n onder-steunende, mededeelsame kollega. "Hy was 'n liefdevolle eggenoot en pa, en toegewyde gesinsman, 'n gemeenskapsaktivis en uitstekende organiseerder. Prins Albert het 'n ware leier verloor en daardie verlies sal ook in Klaarstroom gevoel word, 'n gemeenskap waarvoor hy intens omgegee het. Stoffel was 'n man wat die groter prentjie gesien het. Om politieke stabiliteit in Prins Albert te verseker, het hy verlede jaar sy rol as speaker laat vaar om as onderburgemeester te dien. Hy was mal oor sy werk. Dis dalk net gepas dat hy sy laaste oomblikke deurgebring het in die raadsaal waar hy sy oorsigrol in 'n baie ernstige lig beskou het," het Jaquet gesê.
In sy eie familie- en gemeenskapskring was Botes die persoon na wie mense graag met hul vraagstukke gegaan het. Hy laat sy vrou, Carina, en vier kinders, asook 'n grootmaakseun, na.
Aangesien Botes 'n PV-raadslid (proporsionele verteenwoordiging) van die DA was, en nie 'n wyksraadslid nie, gaan daar geen tussenverkiesing wees nie en sal iemand in sy plek aangewys word.
Volgens Botes se vrou, Carina, laat haar man se heengaan 'n massiewe gat in die lewens van sy gesin en van die hele gemeenskap.
"Stoffel was 'n standvastige en geliefde familiemens, 'n Christen, altyd betroubaar. Hy was net álles wat 'n vrou in 'n man wou hê. Hy was verskriklik lief vir my as sy vrou, vir sy kinders – 'n goeie pa, 'n goeie luisteraar vir hulle. En hy het ons verskriklik bederf: Hy was ons hele familie se staatmaker, raadgewer, 'n skouer vir ons almal. Die breër familie het opgesien na hom. Stoffel het risiko's geneem om dit gedoen te kry. Hy was 'n stem vir sy gemeenskap. Ons salueer jou Stoffel, my geliefde eggenoot."
'n Gedenkdiens het Dinsdag 30 Mei om 11:00 in Prins Albert plaasgevind met die begrafnis eerskomende Saterdag 3 Junie om 10:00 in Klaarstroom vanuit die United Congregational Church.
Stoffel Botes in Klaarstroom waar hy ondersoek ingestel het na die water- en ablusiegeriewe van die nedersetting hier. Klaarstroom is waar hy saam met sy gesin gewoon het.
Stoffel Botes en sy vrou, Carina.Foto's: Marlene Malan
Vorige artikel: Prins Albert-onderburgemeester Botes oorlede
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’