KAROO NUUS - Prins Albert munisipale-raadslid, Stoffel Botes, is gisteraand 23 Mei, oorlede. Botes was ten tyde van sy skielike dood, onderburgemeester van Prins Albert.
Die DA se leier in die Wes-Kaap, Tertuis Simmers, het in 'n verklaring Botes se afsterwe betreur: "Dit is met 'n swaar gemoed en medelye dat die DA vandag afskeid neem van raadslid Stoffel Botes van Prins Albert.
Die DA in die Wes-Kaap wens die familie en vriende van Stoffel alle sterkte toe in hierdie moeilike tyd.
Stoffel was 'n proporsionele verteenwoordiger van die DA in die Prins Albert-munisipaliteit en het onlangs as onderburgemeester gedien.
Stoffel het reeds in 2009 by die DA aangesluit en as 'n getroue lid van die DA het hy sy gemeenskap met ywer gedien en hard gewerk om verandering in Prins Albert te bring. Na 'n suksesvolle tussenverskiesing in 2022, het die DA vir die eerste keer 'n volstrekte meerderheid in die munisipaliteit behaal.
Die oorwinning het beteken dat Prins Albert die eerste munisipaliteit in die Sentraal-Karoo-distrik is wat deur die DA bestuur word.
Stoffel se ontydige heengaan laat nie net 'n leemte in die munisipale raad nie, maar ook in die gemeenskap van Klaarstroom, waar hy vandaan is, en in Prins Albert in geheel.
Ons sal hom vir sy warm persoonlikheid en diensbare geaardheid onthou. Mag sy siel in vrede rus," lui die verklaring.
Linda Jaquet, burgemeester van Prins Albert het in 'n verklaring gesê dat Prins Albert 'n sterk leier en 'n gemeenskapsaktivis verloor het.
" Sy heengaan sal veral in Klaarstroom gevoel word waar hy vir baie jare 'n steunpilaar van die gemeenskap was. Ons gebede is met sy vrou Carina, hul kinders en geliefdes. Ons as raadslede het 'n kollega en 'n vriend verloor. Mag sy siel in vrede rus."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’