OUDTSHOORN NUUS - 'n Ekonomiese herstelplan en omkeerstrategie word vir die Kango-grotte ontwikkel.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is dié besluit tydens 'n raadsvergadering op 29 April geneem.
Soos die geval met talle besighede, is die grotte ook finansieël swaar getref deur die pandemie en moet daar planne beraam word om die inkomste van die grotte te verhoog.
"Die hoofdoel van hierdie strategie is om op operasionele kwessies te fokus en maatreëls in plek te kry om die finansiële situasie van die grotte om te keer sodat daar gelyk gebreek kan word en selfs 'n klein wins gemaak kan word," het Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester gesê.
Volgens die verklaring wat deur die munisipaliteit uitgereik is, behels die strategie onder andere die volgende stappe:
- 'n Hersiening van die huidige toegangstariewe om dit meer bekostigbaar vir mense te maak en sodoende meer besoekers te lok.
- Die aanbied van spesiale pakkette vir individue, gesinne, en groepe.
- Bemarking van die grotte by skole in die omgewing en oor die hele streek.
- Die gebruik van die grotte om spesiale geleenthede soos byvoorbeeld vertonings, sport, musiek, kuns en troues aan te bied. Dit sal egter op so 'n manier gedoen word dat die bewaring van die grotte nie skade ly nie.
- 'n Meer intensiewe bemarkingsveldtog om die grotte plaaslik, nasionaal en internasionaal bekend te stel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'