OUDTSHOORN NUUS - Okkie Terblanche, die DA se nuwe kiesafdelingshoof in Oudts-hoorn, het die dorp Maandag besoek vir 'n reeks verkennende gesprekke met lede van die DA-takke.
Hy het ook die geleentheid gebruik om met verskeie inwoners te gesels oor kwessies wat pla.
Terblanche sê die besoek, wat hy as sy eerste uitreik na die gemeenskap beskryf, het bo verwagting goed afgeloop en hy is opgewonde oor die nuwe gees onder die DA-takke.
"Dis algemene kennis dat die DA in die laaste plaaslike verkiesing gesukkel het en heelwat setels verloor het. Maar die mense is positief en glo dat ons saam met ander enersdenkende partye kan hande vat en 'n verskil kan maak in mense se lewens in Oudtshoorn."
Hy beklemtoon dit dat daar nog geen koalisieooreenkoms met enige party bereik is nie.
"Ons gesels nog net oor die moontlikhede en raakpunte, maar ek kan bevestig dat ons nog niks beklink het nie. Die finale besluit oor koalisies met ander partye word in elk geval op federale vlak geneem."
Terblanche glo die besoek sal help om stukrag te gee aan "die momentum wat binne die party aan die opbou is, maar hy is bekommerd oor die mismoedigheid onder gewone kiesers oor die probleme wat hulle in die gesig staar."
"Die mense is bekommerd oor swak dienslewering en veral werkloosheid. Dit loop soos 'n goue draad deur al die gesprekke. Ons sal moet hande vat om al die probleme saam op te los. Hoe gouer hoe beter. Ons moet meer doen en minder praat. Ek glo onwrikbaar daaraan om dinge gedoen te kry."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'