OUDTSHOORN NUUS - Die vrywilligers van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) het groot planne vir die organisasie.
Volgens Colleen Smith, 'n vrywilliger en stigter van ODIN, gaan hulle op 21 November 'n amptelike bekendstellingsfunksie vir die organisasie hou.
"Dit gaan ons bekendstelling as onafhanklike liefdadigheidsorganisasie wees. Ons wil ook die gemeenskap oor ons doelwitte inlig.
"Dit gaan ondermeer oor die opvoeding van mense rakende die welsyn van diere, om die teel van honde te verminder en om die diere wat ons gered het weer in liefdevolle huise te kry.
"Ons wil ook op die manier die mense op meer maniere by ODIN betrokke kry. David Strauss en Morkel Mulder het aangebied om die funksie vir ons te reël."
Nog een van hul groot projekte wat hulle aanpak is 'n 2018-kalender wat hulle self saamgestel het.
"Die modelle is al die honde wat ons gered het en nuwe, liefdevolle huise gekry het. Dit dien ook as fondsinsameling vir die organisasie sodat ons ons werk kan voortsit.
Lemaryn Barendse van Lien Photography is een van ons vrywilligers en sy doen die kalender vir ons.
"Sy het ook 'n pragtige video gemaak wat op ons Facebook-blad beskikbaar is sodat die gemeenskap kan sien waaroor ODIN gaan."
Volgens haar is die kalender nie die enigste verrassing nie. ODIN is ook op soek na geskikte grond sodat hulle hul eie plek kan oprig.
"Ons is 'n pro-life organisasie en wil nie net honde uitsit nie. Daarom soek ons 'n groter perseel sodat ons 'n geskikte plek het waar ons die diere kan laat speel. Ons beplan ook om 'n basiese kliniek op te rig.
"Dit gaan nie werk van die veeartse wegneem nie en vervang op geen manier 'n veearts nie. Dit is bloot sodat ons die basiese dienste kan verrig. Ons gaan ook 'n koffiewinkel en 'n winkel met tweedehandse klere op die perseel hê.
"Dit sal ook help om broodnodige fondse te genereer."
Kalender
Colleen sê die 2018-kalenders kan per WhatsApp bestel word.
Die kalenders is R150 en R55 vir posgeld. Stuur 'n boodskap aan 060 613 2708 vir verdere inligting.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'