OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het Jeugmaand 2019 Sondagmiddag met 'n diens in die Christelike Herlewingsentrum begin.
Die forum se jeugmaand aktiwiteite word volgens Philip Seroux, projekbestuurder, saam met die SAPD, Korrektiewe Dienste, Famsa, die Oudtshoorn Jeugkafee, ACVV, Kindersorg, die departement van gesondheid en die Oudtshoorn-munisipaliteit aangebied.
'n Oudgevangene, Gabriel (Tatie) Meyer wat in 1995 lewenslange gevangenisstraf opgelê en in 2011 vrygelaat is, het jongmense met sy motiveringspraatjie gewaarsku teen die gevare van die gebruik van dwelms en alkohol.
Pastoor Johnny Baardman, hoof uitvoerende beampte van die OCJF, het alle jongmense en belangstellendes genooi na 'n spesiale geleentheid op Jeugdag, Sondag 16 Junie, om 10:00 in die Toekomsrus-gemeenskapsaal.
Onder die sprekers wat by die geleentheid sal optree is die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, Generaal-majoor Oswald Reddy van die Suid-Kaapse polisie en adv. Michelle Weyers van die Nasionale Vervolgings Agentskap.
Pastoor R Davidson van Uniondale sal as prediker optree terwyl die Revival Kids 'n dansitem sal lewer en die orkes van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste ook sal optree. Die forum se slagspreuk vir die maand is: Ons Jeug. Ons Toekoms.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'