OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het Sondag sy agtste bestaansjaar met 'n lofprysing- en dankseggingsdiens in die Christen Herlewing Sentrum gevier met die tema: "Tot hiertoe het die Here ons gehelp."
Evangelis Willbet Joseph van George, het die boodskap gebring. Johnny Baartman, hoof- uitvoerende beampte van die forum het 'n kort oorsig gegee van die organisasie se aktiwiteite en prestasies sedert sy bestaan.
Die OCJF is twee jaar agtereenvolgend deur die Eden-sportraad aangewys as Eden se Rekreasie organisasie van die Jaar en was verlede jaar ook die Wes-Kaapse wenner.
Verteenwoordigers van die Oudtshoorn-munisipaliteit, die polisie, Famsa, die departemente van justisie, maatskaplike ontwikkeling en korrektiewe dienste het verjaarsdagwense gebring terwyl verskeie groepe waaronder die koor van korrektiewe dienste, die Sweet Sounds-sanggroep en die Revival Kids-dansgroep die diens opgehelder het. Volgens 'n verteenwoordiger van korrektiewe dienste is die departement groot dank aan die OCJF verskuldig oor hul betrokkenheid by die gevangenis.
Die OCJF se jaarlikse Erfenisdag Sport- en Kultuurfees word vanjaar op Sondag 23 en Maandag 24 September by die Bridgton-sportterrein aangebied. Skakel Philllip Seroux vir meer besonderhede by 079 987 9486.
Phillip Seroux (links) en Johnny Baartman (regs) saam met van die gaste.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'