OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) het weer 'n baie geslaagde winter skole-vakansieprogram aangebied.
Volgens Phillip Seroux, projekbestuurder van die forum, is daar vanjaar gefokus op die gebied in en om Rose Court (Sektor2 van die SAPD) in Bridgton, waar dwelms en misdaad hoogty vier en die polisie hul hande vol het.
Ao. Leila Claassen het op die eerste dag die kinders met ‘n insiggewende praatjie bewus gemaak van die werk wat die polisie doen en hoe die gemeenskap kan help met die bekamping van misdaad.
Verlede Dinsdag was dit die beurt van die kulkunstenaar, Jannie de Bruyn wat die kinders met sy poppekas en buikspraak met Tommy Johnson die kinders behoorlik vermaak het.
Woensdag was ‘n sportdag met lekker speletjies en baie pret.
Wayne Pietersen van die departement maatskaplike dienste het Donderdag die kinders oor selfbeeld toegespreek en die week se program is op Vrydag 21 Junie afgesluit met 'n baie opwindende talentkompetisie.
Volgens Seroux is in totaal bykans 2 000 kinders by die week se aktiwiteite betrek.
Hy het sy dank teenoor alle rolspelers uitgespreek met spesiale dank aan Klein Karoo Internasionaal wat die week lange program geborg het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'