OUDTSHOORN NUUS - Kango-grotte spog met 'n nuwe watersuiweringsaanleg wat voortaan verantwoordelik gaan wees vir spoelwater vir hierdie toeristebestemming se toilette en die natlei van tuine.
Dié inisiatief is moontlik gemaak deur die Oudtshoorn-munisipaliteit wat op hul beurt 'n skenking van R1,5 miljoen van die Wes-Kaapse regering ontvang het. Maskam Water, Tansand, en WEC consult was die drie maatskappy wat by hierdie projek betrokke was.
Die totale koste van hierdie projek het 2,5 miljoen beloop.
Een van die voordele van die aanleg is dat die Kango-grotte se waterkoste nou slegs R2 per kiloliter water sal wees waar hulle in die verlede R8 per kiloliter water moes betaal het.
"Ons is dankbaar dat die Oudtshoorn-munisipaliteit hierdie suiweringsaanleg by die Kango-grotte aangelê het want dit gaan voortaan sorg dat die tuine by ons ingang lowergroen is.
Die feit dat hierdie ook 'n groeninisiatief-projek is maak die Kango-grotte ook baie meer bemarkbaar onder buitelandse toeriste, het Allison Moos (waarnemende bestuurder van Kango-grotte) gesê.
Van links is Fritz Theart (Maskam Water), Callie van Rensburg (WEC consult), Gerhard Cronjé (Maskam Water), Allison Moos (waarnemende bestuurder van Kango-grotte), Noluthando Mwati (onderburgemeester van Oudtshoorn), Johan Fourie (raadslid) en Chris Kock (tegniese direkteur Oudtshoorn-munisipaliteit). Foto:Wyndham Ewerts
Volgens Gerhard Cronje, direkteur van Maskam Water, sal 3,6 miljoen liter water per jaar herwin word.
Die aanleg hoef ook net twee keer per jaar gediens te word deur tegniese personeel wat op die perseel werksaam is. Die waarnemende burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Noluthando Mwati, het op haar beurt gesê dat dié munisipaliteit baie trots is dat hulle die eerste munisipaliteit in die land is wat oor so tipe watersuiweringsaanleg beskik.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'