OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-hospitaal het sedert 1 Februarie 'n nuwe kliniese bestuurder.
Dr. Erhardt Heydenrych werk reeds sedert 2004 as mediese beampte vir die Oudtshoorn- subdistrik en is dus 'n bekende gesig by die hospitaal en klinieke.
Volgens Nadia Ferreira, hoof-kommunikasiebeampte van die Tuinroete en sentrale Karoostreek, is dr. Heydenrych as kliniese bestuurder verantwoordelik vir sekere aspekte van kliniese personeel- en diensleweringsbestuur by die hospitaal en klinieke in die Oudtshoorn-subdistrik.
"My doelwit is om die doelwitte van die departement, en ons dienslewering, in lyn te kry met die Ideale kliniek en Ideale hospitaal-konsep. Ons personeel is 'n waardevolle bate, wat sodanig hanteer moet word.
"Ons onderskryf, en streef daarna om die waardes van die departement in dienslewering en bestuur te integreer, en teenoor gesondheidsgebruikers uit te leef," sê Heydenrych in 'n mediaverklaring wat deur Ferreira uitgereik is.
Ferreira sê alhoewel die omgewing uitdagings soos byvoorbeeld werkloosheid het wat 'n direkte effek op gesondheid het, asook finansiële beperkinge, is dr. Heydenrych positief oor dienslewering en die departement se struktuur om kwaliteit gesondheidsdiens aan almal te lewer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'