LADISMITH NUUS - Anthony Ewerts en Bradley Benades van die ANC is verlede Vrydag tydens 'n spesiale raadsvergadering van die Kannaland-munisipaliteit ingesweer.
Die minister van plaaslike bestuur, Anton Bredell, het Anton Groenewald van die Overberg-munisipaliteit as voorsitter vir hierdie vergadering afgevaardig.
Die items vir oorweging op die agenda het ingesluit, mosie van wantroue in die speaker, verkiesing van speaker, burgemeester en onderburgemeester, verwydering van munisipale bestuurder en provinsiale ondersteuning.
'n Mosie van wantroue is teen die speaker, Rodge Albertus, gebring omdat hy die raad sou mislei het in sy opmerkings dat die burgemeester, Jeffrey Donson, wanadministrasie sou toepas en eie belang en nepotisme sou bevorder. 'n Mosie van wantroue is ook teen Aletta Steenkamp (DA), as verteenwoordiger op die Garden Route-distriksmunisipaliteit gebring.
Die mosie teen Steenkamp is egter tydens die vergadering teruggetrek.
Groenewald het daarop gewys dat die twee nuwe raadslede, Ewerts en Benades, nie enige betrekkinge binne die munisipaliteit mag beklee nie.
Daar is ook besluit dat Albertus as speaker sou aanbly. Hierna het die verwydering van die munisipale bestuurder, Ian Avontuur, aan die beurt gekom.
Volgens Icosa is Avontuur se kwalifikasies geensins geverifieer nie.
Avontuur sou dan ook volgens Icosa aanstellings doen soos hy goed dink.
Daar is ook daarop gewys dat Avontuur elke keer op 'n drie maande basis aangestel word.
Groenewald het 'n aanbeveling aan die raad gedoen dat die pos permanent gevul moet word.
Die verkiesing van burgemeester en onderburgemeester het nie plaasgevind nie en sal klaarblyklik oorstaan vir 'n volgende vergadering.
Hierdie vergadering het egter ook nie sy kwota drama vrygespring nie. Benades het Donson as "agbare verkragter" aangespreek waarop Donson teruggekap het en hom "agbare kindafmaker" genoem het.
Hulle is albei gevra om hul stellings terug te trek.