LADISMITH NUUS - Lede van die nuutgestigte Kannaland Independent Party het reeds met die werwing van lede begin en is van voorneme om aan die komende verkiesing vir plaaslike regering deel te neem.
Volgens Rodge Albertus, stigterslid van die party, was daar op 1 Junie reeds meer as 200 lede op KIP se lys.
Albertus sê die lede was voorheen ondersteuners van die ANC en Icosa en is veral jonger kiesers, maar dat die nuwe party lede onder alle ouderdomme en kleur werf.
Volgens Albertus spruit die besluit om 'n nuwe party in Kannaland te stig voort uit kwessies soos eiebelang van die huidige politici, die gebrek aan jong politieke leiers, die huidige organogram van die munisipaliteit wat slegs 'n sekere deel van die plaaslike bevolking bevoordeel, politieke magspel in die raad wat dienslewering kortwiek en tenderprosesse waaroor vrae ontstaan.
Hy noem ook dat daar onder die huidige politieke bestel min geleenthede en ontwikkelingsmoontlikhede vir die jeug is.
Nog 'n stigterslid van Kannaland Independent Party, David Opperman, sê dat dit nie slegs jongmense is wat belangstelling in die party toon nie, maar dat gerespekteerde ouer lede van die gemeenskap hulle ook steun.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'