Dit is die verhaal van die nuwe toevoegings tot Langenhoven Gimnasium se onderwyspersoneel en elkeen is opgewonde oor die jaar wat voorlê.
Me. Karina Maartens beskryf haarself as "`n gebore Pretorianer wat van kleins af net wou lees, teken en met naald en gare werk". Sy het in Krugersdorp skoolgegaan en aan Hoërskool Outeniqua gematrikuleer.
Me. Maartens is ook `n oud-Kovsie en het haar nagraadse onderwysdiploma aan Unisa behaal. As onderwyser het sy al `n draai gaan maak in Thailand. Sy het `n seun, Xander. Alhoewel sy in `n kusdorpie, Jeffreysbaai, grootgeword het, stel sy nie veel in branderry belang nie, vertel Liesl Mulder.
"Ek is `n groot Blou Bul-ondersteuner en is lief vir kos maak, veral om nuwe konkoksies te probeer. Ek geniet dit om nuwe plekke te ontdek waar ek die natuurskoon en seelewe op verskillende maniere kan ervaar en ek vang ook graag vis. Laaste en verseker die belangrikste, het ek `n groot belangstelling om elke dag nuwe dinge oor die Here te leer."
Me. Mulder het aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie gestudeer. Haar vakke is Geografie en Toerisme en sy sal ook hokkie afrig. Me. Inge Ferreira het `n groot passie vir kos en wyn, mode en inkopies, dans en die wetenskap in die algemeen.
Sy het aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer en haar B.Sc in Molekulêre Biotegnologie asook haar NOS aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Haar vakke is Lewenswetenskappe, Wiskunde Geletterdheid en Natuurwetenskappe.
Op sportgebied sal sy betrokke wees by swem en trompoppies. Me Carmén Jeffrey spog met `n honneursgraad in ondersteunende onderwys van die Universiteit Stellenbosch. Sy sal vanjaar Wiskunde en Afrikaans aanbied en vertel dat sy graag na musiek luister en `n goeie boek geniet. Sy geniet dit ook om haarself uit te leef in die kombuis. "Dankie vir die geleentheid om deel van die skool en leerders se opvoeding te wees."
Ben Janse van Rensburg beskryf homself as "`n trotse oud-Gimmie." Mnr. Janse van Rensburg het Gimmies se skoolbanke vir die swartbord verruil en sal vanjaar tegnologie asook Ingenieursgrafika en Ontwerp aanbied. Hy het aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus gestudeer en sien ook daarna uit om vanjaar rugby af te rig.
"Ek glo dat elke leerder in Langenhoven Gimnasium die potensiaal het om eendag suksesvol te wees. Ek wil graag help om daardie potensiaal te ontwikkel en te verbeter."
_593708772.jpg)
Mnr Ben Janse van Rensburg, me Liesl Mulder, me Carmen Jeffrey, me Inge Ferreira en me Karina Maartens is Langenhoven Gimnasium se nuwe personeel. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'