So het die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Theuns Botha, Maandagoggend gesê en spesifiek die konstruksiemaatskappy, Asla, bedank vir hul reuse aandeel ten opsigte van borge en donasies tydens die aanbou van die kliniek.
Die nuwe kliniek van bykans 60 vierkante meter sal die gemeenskap se 615 inwoners bedien met 'n kliniese verpleegster, 'n apteekassistent en 'n assistentverpleegster, almal van Klaarstroom en omgewing.
Die kliniek sal Woensdae tussen 07:30 en 16:00 oop wees. Pasiënte wat meer gespesialiseerde behandeling benodig sal na die provinsiale hospitaal op Prins Albert verwys en vervoer word.
"Statisties gesproke moes hier vandag eintlik nie 'n mediese kliniek gewees het nie," het Botha gesê. "Gewoonlik word klinieke gebou vir gemeenskappe met minstens 30 000 mense, en ons het hier op Klaarstroom die afgelope ses maande slegs 250 mense behandel – so hoe rym dit? Dis egter nie altyd statistieke wat saak maak nie. Tydens 'n vergadering op 29 Maart 2010 op Leeu-Gamka is die vraag van 'n mediese kliniek op Klaarstroom onder premier, Helen Zille, se aandag gebring en sedertdien het mense agter die skerms geswoeg om dit 'n werklikheid te maak. Ons missie is dat elke persoon mediese sorg moet ontvang as dit nodig is."
Hy het egter daarop gewys dat dit belangrik is dat mense beter na hulself moet kyk. Volgens hom word meer as 50 persent van pasiënte opgeneem as gevolg van verkeerde leefstyl.
Hy het ook daarop gewys dat opnames in provinsiale hospitale se ongevalle afdelings jaarliks met 30 persent styg. Hy voorspel dat die toename "sleg gaan bots met beskikbare fondse en personeel as dit so gaan aanhou in die toekoms".
Hy het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om verantwoordelikheid vir hulle leefstyl en gesondheid te aanvaar en dat hospitale altyd daar is vir diegene wat 'n krisis beleef.
Op versoek van die plaaslike gemeenskap dien die kliniek as nagedagtenis van dr. Jozef le Grange, 'n algemene praktisyn van Prins Albert wat vir baie jare ook in Klaarstroom diens gedoen het voor sy skielike afsterwe. Sy weduwee Amelia en seun Diederik van die plaas Fernskloof naby Prins Albert het die verrigtinge bygewoon.

Minister Theuns Botha knip die lint tydens die opening van die Klaarstroom-kliniek. By hom is Stoffel Botes, Heinrich Mettler, Isak Windvogel, Amelia le Grange, Izak van Heerden en en Pierre Blaauw. Foto: Leon Nell.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'