OUDTSHOORN NUUS - Trapsuutjies Projekte, ‘n nuwe groen besigheid sonder winsbejag, het onlangs haar buiging in die dorp gemaak.
Trapsuutjies Projekte is die onderneming van Susan Botha, wat met behulp van befondsing van ‘n Nederlandse familietrust, die WaterWise Ways-projek in die groter Oudtshoorn-munisipale gebied, wat De Rust en Dysselsdorp insluit, bedryf. Die projek is een van sewe projekte waarvoor die Gourits Groepsbiosfeer-reservaat (GCBR) befondsing vir die volgende drie tot vier jaar van gekry het.
“Die naam Trapsuutjies verwys na die konsep dat inwoners ‘suutjies’ – lig en versigtig – die aarde moet betree,” verduidelik Botha. Die naam is reeds in 2012 uitgedink deur Marita Serfontein, wat saam met Botha, CapeNature en vrywiligers die Trapsuutjies-tent by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees hanteer het. “Ons poog om inwoners te wys hoe om hul koolstofvoetspoor te verminder ten einde klimaatsverandering teen te werk.”
‘n Mens se koolstofvoetspoor verwys na die uitwerking wat jy op die omgewing het. Dit sluit onder meer in om skaars natuurlike hulpbronne, soos water, spaarsaam te gebruik. Die WaterWise Ways-projek fokus daarop om lekkende krane en toilette in deernishuishoudings te herstel. Die Oudtshoorn-munisipaliteit verskaf 6000 liter water gratis aan 5782 arm huishoudings, maar die huishoudings gebruik gemiddeld tussen 15 000 en 17 000 liter per maand. “Deur watervermorsing deur lekkende krane, toilette en pype te voorkom, bespaar nie net water nie, maar dis ook voordelig vir die belastingbetaler se sak,” sê Botha. “Water word vermors deur lekplekke, onkunde en omdat mense bloot nie omgee nie.”
Die WaterWise Ways-projek sluit ook ‘n Fix&Learn-afdeling in. “In ruil vir die gratis herstel van waterlekke, vra ons die inwoners wat daarby baat om ‘n werksessie by te woon waar hulle gewys word hoe om lekke te herstel.” Tydens hierdie werksessie word die inwoners ook ingelig oor ander maniere waarop hul koolstofvoetspoor verklein kan word, soos om plastieksakke weer en weer te gebruik en alles nie net weg te gooi nie.
Botha se span bestaan uit nege lede (4 in Oudtshoorn en 5 in De Rust) wat opgelei is om basiese waterlekkasies te herstel. Trapsuutjies Projekte se spanlede dra baadjies met die kenmerkende verkleurmannetjie op, en ry met ‘n bakkie wat ook met dieselfde logo gemerk is. Die Trapsuutjies-kantoor is in Hoogstraat 258.
Vir meer inligting oor die projek, kontak Marilize Beer by 065 801 4810 of marilizebeer@yahoo.com of Susan Botha by 083 500 5900 of sbotha0@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'