Dié skool het verlede week 'n groot bedrag geld van Lotto gekry om die skool heeltemal oor te bou.
Volgens die hoof van die skool, Hester Wonderlik, is dit 'n proses wat ongeveer 'n jaar al aankom.
"Ons het aansoek gedoen by Lotto vir die projek. Verlede week het hulle vir ons die kontrak gestuur met goedgekeurde planne om die hele skool oor te bou. Daar was duisende aansoeke en ons is toe onder die topvyf wat gekies is. Ons het R3,8 miljoen gekry en R3,5 miljoen gaan vir die bou van die skool en die res vir dit wat nog nodig is," vertel sy opgewonde.
Die hele skool gaan gesloop word en 'n splinternuwe, dubbelverdieping gebou gaan gebou word.
"Ons is vreeslik opgewonde oor die nuwe gebou. Die kinders gaan 'n nuwe speelterrein hê, daar gaan beter sekuriteit wees en daar gaan 'n veilige parkeerarea vir die onder-wysers se voertuie wees," verduidelik sy.
Sonskynhoekie is reeds 23 jaar oud en oor die laaste paar jaar het die skool onder inbrake deurgeloop.
Die skool het tans 135 leerders tussen die ouderdomme van 0 tot 6 jaar, maar die nuwe skool kan ongeveer 200 leerders neem.
"Dit beteken ons kan nuwe onderwysers of onderwyshulpe ook aanstel."
Volgens Wonderlik, as alles goed loop, gaan die bouproses in die Junievakansie begin.