OUDTSHOORN NUUS - Noel Rucastle (52), van die Katolieke kerk op Oudtshoorn word op Saterdag 8 Augustus in die St. Savior-katedraal as nuwe biskop gewy.
Volgens vader Enrico Parry, kanselier van die bisdom, is Rucastle vroeër vanjaar deur Pous Franciskus, die hoof van die Katolieke Kerk, aangestel, na die pos twee jaar vakant was.
"Rucastle is in Upington gebore en het in Kimberley grootgeword. Hy is 20 jaar gelede in Kaapstad, waar hy en sy gesin gewoon het, tot priester gewy en het ook die Katolieke kerk se regbank in die Kaapse streek gelei."
Parry sê die kerkdiens vir Rucastle se inwyding vind om 10:00 onder streng inperkingsmaatreëls plaas. Vader Dennis Ongansie, hoof van die diensreëlings, sê die grootste deel van die 50 mense sal die priesters wees wat in die streek van Oudtshoorn-bisdom werk. Daar is sewe biskoppe van elders, en die Vatikaanse ambassadeur, aartsbiskop Peter Wells, sal ook teenwoordig wees.
Diegene wat die diens wil volg kan die lewendige uitsending op die Facebook-blad, Episcopal Ordination of Bishop - Elect Noel Andrew Rucastle, volg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'