“In die plek van die rooi baadjie wat die KKNK die afgelope tien jaar gedra het, het ons nou ’n blou baadjie, geïnspireer deur die kleur van ons berge en uitspansel,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied.
Die KKNK se nuwe korporatiewe identiteit, met die kenmerkende KKNK-element as kern, sal binnekort oor al die fees se platforms sigbaar wees.
In 2016 word die KKNK oor sewe dae aangebied en word die Paasnaweek (Vrydag, 25 tot Maandag, 28 Maart) ten volle benut. Volgens Snyman toon navorsing dat feesgangers gemiddeld ses dae by die KKNK deurbring. “Die nuwe formaat laat ons toe om ’n groter aanbod beskikbaar te hê op die dae wanneer die meeste feesgangers by ons kuier.”
Alhoewel die fees ’n nuwe identiteit het, het Absa, ’n lid van Barclays, reeds die bank se ondersteuning vir die volgende drie jaar bevestig. “Ons is baie bly dat Absa as ’n hoofborg by die KKNK betrokke bly, aangesien die fees oor die jare vanweë die bank se ondersteuning, geweldig gegroei het. Ons sien daarna uit om die fees na nuwe hoogtes te neem met Absa se voortgesette ondersteuning,” sê Snyman.
Bobby Malabie, groep uitvoerende hoof van bemarking en openbare betrekkinge by Barclays Africa, sê “as borg weet ons dat ons oor die afgelope 12 jaar onskatbare waarde tot die uitbreiding van die KKNK gevoeg het en ons sien daarna uit om die fees in die toekoms verder te help floreer”.
Met die program wat in November vanjaar bekendgestel word en kaartjies wat vanaf einde November beskikbaar sal wees, kan besoekers vroeër as ooit seker maak dat hulle KKNK-besoek beplan is.
