Volgens die munisipaliteit se bestuurder van spesiale projekte, Gavin Juthe, het die munisipaliteit meer as R5 miljoen van die nasionale regering ontvang vir die lewering van noodsaaklike basiese dienste wat water en sanitasie insluit. Hy sê dat die grootste gedeelte daarvan gebruik is vir ablusiegeriewe in Rose Valley.
Meer as R700 000 is gebruik vir sanitasie in die Volmoed gebied waar ongeveer 397 huishoudings is. "Die twee ablusieblokke, elkeen met 10 spoeltoilette, wat ons hier laat oprig het vervang die klomp puttoilette wat lank gelede opgerig is," sê Juthe. Hy verduidelik dat die puttoilette nie prakties is nie aangesien daar gereeld voorwerpe in die gate gegooi word, moeilik uitgesuig kan word en ook kan bydra om grondwater te besoedel.
Die twee ablusie fasiliteite wat Dinsdag amptelik deur die uitvoerende burgemeester, Gordon April, aan inwoners van Die Area oorhandig is is in groot skeepsvraghouers ingerig.
Tydens die oorhandiging het April gesê die mense moet eienaarskap van hulle fasiliteite neem en dit oppas. In sy kort toespraak het hy gesê: "Dit is ons as leiers se plig om te kyk dat ons mense se lewens verander. Ons landelike gebied is baie groot, maar soos ons geld van die regering kry gebruik ons dit om vir die mense dienste te gee. Zille en De Lill kan maar uit die Kaap kom kyk hoe lyk die toilette wat ons bou."
April het ook vooraf 'n vinnige besoek aan die historiese Kliplokasie naby Volmoed gebring en gesê dat die inwoners daar kla oor beligting. "Daar is maar net drie ligte, dis donker in die aand en ons moet iets daaraan doen. Ons moet vir die mense in die landelike gebiede dieselfde dienste gee as wat ons in die woonbuurte gee."
Hy het die sleutels van die fasiliteite aan Johanna Floors, 'n lid van die gemeenskap wat gemoeid is met behuising, oorhandig en gevra dat die inwoners 'n stelsel sal instel waar spesifieke persone verantwoordelik is vir die sleutels en die onderhoud van die fasiliteite.
Die grond waarop Die Area geleë is behoort aan 'n privaat eienaar, maar volgens Juthe is die munisipaliteit besig met onderhandelinge sodat formele behuising later op die grond opgerig kan word.
Lede van Die Area buite Volmoed by een van die nuwe ablusiefasiliteite wat aan hulle oorhandig is. Agter staan, van links: Francois Human (wat die week as munisipale bestuurder waarneem), Gordon April (uitvoerende burgemeester), Johanna Floors en Gavin Juthe.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'