OUDTSHOORN NUUS - Die Animal Care Team (ACT) SA het verlede week 'n Spay-a-Thon gehad waar 107 honde in die Oudtshoorn-streek gesteriliseer het.
Volgens Vanessa Engelbrecht, voorsitter van ACT, was staatsveeartse van Beaufort-Wes en George, sowel as plaaslike veeartse soos dr. Garth Ryder en dr. Karlien Botha deel van die span.
"Die diere wat gesteriliseer is kom van Matjiesrivier, Volmoed, Bongolethu, Prins Albert, Calitzdorp en Dysselsdorp. Ons kon ook pensionarisse in die middedorp se diere steriliseer."
Volgens haar bied hulle op 4 Oktober, op Wêrelddieredag, 'n liefdadigheidsgeleentheid.
"Die staatsveearts in Van der Rietstraat gaan gratis hondsdolheidinentings gee en ons het 'n mark waar ons verskeie troeteldierlekkernye en -speelgoed gaan verkoop.
Daar gaan ook iemand wees wat honde se naels kan knip en hulle skeer en verskeie ander lekkernye sal ook te koop wees."
Die opbrengs sal aan ACT se sterilisasieprogram gaan.
Die geleentheid begin 09:00 en duur tot 18:00. Om 'n stalletjie te hê of om 'n borg te wees kan belangstellendes Gina Muller by 082 324 8766 of Elmarie Swiegers by 082 498 0177 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'