OUDTSHOORN NUUS - Fase drie van die Rose Valley-behuisingsprojek is in volle swang en die ondergrondse dienste soos water, sanitasie, elektrisiteit en stromwaterpype is voltooi.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is daar reeds 600 huise in Rose Valley die afgelope drie jaar oorhandig en is die konstruksie van die volgende 332 reeds aan die gang.
Asla-konstruksie is in beheer van die bou van die huise.
"Ons is verheug om die vordering in die lewering van huise in die Groter Oudtshoorn te sien. Die diens word in samewerking met die menslike hulpbronne departement en die nasionale- en provinsiale departemente van menslike nedersettings gelewer," het burgemeester Colan Sylvester gesê.
Daar sal 132 huise in die behuisingsprojek se vierde fase gebou word.
"Die begunstigdes wat die huise gaan kry is mense wat deel was van die Rose Valley-projek, maar wat nie huise in die eerste drie fases gekry het nie."
Dié projek het in 2014 begin waar 299 huise van die eerste fase aan begunstigdes in 2015 oorhandig is.
In fase twee is 355 gebou wat in 2016 oorhandig is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'