OUDTSHOORN NUUS - Twee moorde oor die afgelope naweek het die dorp van Oudtshoorn geruk.
Die voorvalle het volgens sers Gretchen Michaels, ‘n polisiewoordvoerder, albei op Saterdag 3 September in Bridgton plaasgevind.
In die eerste voorval wat omstreeks 12:30 in Lappertstraat plaasgevind het, was die 37-jarige Ellen Mentoor en haar 16-jarige seun glo in ‘n stryery betrokke toe die seun met ‘n mes in die nek gesteek is. Hy is op die toneel oorlede.
Ellen Mentoor het vandag op ‘n klagte van moord in die Oudtshoorn landdroshof verskyn en die saak is deur landdros Roelf Konstabel vir ‘n borgprofiel en borgaansoek tot 19 September uitgestel.
Familielede het die hof hierna huilend verlaat.
In die tweede voorval wat op 3 September omstreeks 22:12 in Kuduweg plaasgevind het, is Glenton Arendse na bewering verskeie kere met ‘n mes gesteek.
Hy is later in die hospitaal oorlede.
‘n Verdagte, Valentino Ewerts (24), het vandag op ‘n klagte van moord in die hof verskyn en die saak is deur landdros Johan Steynberg vir ‘n borgprofiel en borgaansoek tot 18 September uitgestel.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'