Tydens die verfilming van 'n toneel waar Faan se pa begrawe moes word was gesoute regisseur Koos Roets met sy fyn oog vir detail, nie gelukkig met die manier waarop die doodskis in die graf laat sak word nie.
"Ons sal moet klippe of iets anders met gewig in die kis sit," het hy gesê. "Ek kan sien op die manier wat julle dit laat sak dat daar niks in is nie, en as ek dit kan sien, gaan gehore dit ook agterkom. Die ideaal sou wees om werklik iemand in die kis te plaas maar ek kan dit nie van enige een van julle verwag nie."
Voor Roets egter sy oë kon uitvee het Ilana Louw, 'n lid van die tegniese verfilmingspan, vreesloos in die kis geklim en die deksel self toegemaak. Daar was aanvanklik kommer dat die rieme, gordels en knope nie die volle gewig sou kon dra nie, maar dit was verniet want die tenger jong vrou is twee of drie keer in die graf laat sak en weer opgetrek tydens verfilming voordat "Meester", soos Roets deur die filmspan aangespreek word, tevrede was.
"Sy is baie dapper," het 'n De Rust-ekstra gesê. "Baie mense sal nagmerries oor so iets kry."
"Dis tipies Ilana," het 'n lid van die filmspan geantwoord. "Sy vrees niks nie."
Die begrafnis met hartroerende tonele is Sondagoggend by die ou begraafplaas op De Rust verfilm. Alhoewel akteurs Willie Esterhuysen, Marius Weyers, Anel Alexander, Eunice Bauermeister en Deon Lotz op hulle beste was, het die roerende atmosfeer van die koor op die agtergrond, die sonsopkoms oor die pragtige berge van die omgewing en die toneelspel Roets genoop om dit weer en weer te verfilm. "Dis fantasties," het Roets gesê. "Die lig, omgewing, omstandighede en toneelspel is so ideaal dat 'n mens nie wil ophou skiet nie."
Anel Alexander en Eunice Bauermeister het hulself so in hul rolle ingeleef dat hulle trane vrylik tydens die begrafnistonele geloop het en so eg was dat selfs verskeie ekstras op die stel aangedaan was.
Skietwerk aan Faan se Trein het op 16 April begin en behoort teen die einde van Mei afgehandel te wees.
Die fliek, wat deur die bekende filmvervaardiger Helena Spring aangepak word sal vroeg volgende jaar in Ster-Kinekor teaters draai.

"En die rieme, dominee," vra Faan (Willie Esterhuysen) vir die dominee (Marius Weyers) tydens 'n toneel waar die dominee vir Faan gekomplimenteer het oor sy pa se kis so mooi is. "Die rieme is ook mooi, Faan," het dominee geantwoord. Akteurs van links; Nicola Hanekom, Deon Lotz, Willie Esterhuysen, Anel Alexander en Marius Weyers met De Ruster Luhann Odendaal wat een van die ekstras was, agter. Foto's: Leon Nell
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'