OUDTSHOORN NUUS - Nicolas Everts (73), bekende boukontrakteur, is verlede Saterdag vanuit die Anglikaanse Kerk ter ruste gelê. Everts se afsterwe is deur sy seun, Nigel Everts, as ontydig en skielik beskryf.
"Alhoewel my pa die afgelope rukkie soms nie te lekker voorgekom het nie, was hy nooit 'n siek mens wat bedlêend was nie. Daarvan getuig die feit dat hy op die dag van sy dood steeds in sy werk gestaan het. Na werk het hy net begin bloed braak waarna hy bewusteloos geraak het. Ek en my broer, Morné, het toe dadelik hospitaal toe gejaag met ons pa, maar dit was reeds te laat."
Everts beskryf sy pa as 'n liefdevol mens wat maklik met mense van verskillende agtergronde kon meng.
"Daddy was 'n nederige mens wat tot op sy laaste vir sy huis en gesin gesorg het. Ons gaan hom verskriklik baie mis, sy dood laat 'n groot leemte in ons lewe."
Nicolas se broer, Hentie Ewerts, sê dat sy broer altyd gesteld was op die kwaliteit van die werk wat hy lewer.
"Sy leuse was altyd; as jy 'n gebou of huis vir iemand oprig, doen dit ordentlik, of los dit. As jongman het hy altyd weggewerk om groot boukontrakte te voltooi waar hy sy ambag volmaak het. As sy enigste lewende broer het sy dood my swaar getref omdat dit so skielik was. Vir die breë familie was dit 'n groot emosionele slag omdat hy so geliefd was. Ek berus my dat dit God se wil was om hom van ons te neem."
Nicolas se begrafnis is deur familie en vriende van heinde en ver bygewoon. Die diens was by sy woning in Volstruisweg. Hy word oorleef deur sy vrou, Maureen en seuns, Morné, Nigel, Reagan en Brett, sowel as kleinkinders en een agterkleinkind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'