OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat die Covid-19-pandemie vier jaar later steeds sy kloue in instansies slaan en het hierdie keer tot die gevolg gehad dat NG Kerk-Suid in Langenhovenweg in Januarie sy deure permanent gesluit het.
Die kerk is op 8 November 1954 gestig. Volgens ds. Andries Potgieter, voorsitter van Oudtshoorn Ring, is dit baie hartseer wanneer 'n kerk moet sluit.
"Die realiteit is dat gemeentes kleiner word. Met Suid het dieselfde gebeur. Dit was 'n klein gemeente voor Covid en na Covid was dit nog kleiner. Hulle kon net eenvoudig nie herstel nie. Die sinode, sowel as die Ring het gehelp, maar dit was net eenvoudig nie genoeg nie. Die besluit was ongelukkig om die deure te sluit."
Volgens Potgieter het ds. Louis Uys, wat die laaste dominee daar was, demissie ontvang. Uys lei sy gemeente reeds sedert 2008.
"Hy is dus steeds 'n dominee en kan by ander kerke preek. Die kerkraad het ook nog nie ontbind nie, hoewel die pastorie en die kerksaal reeds verkoop is. Die raad probeer ook die kerk verkoop, maar wil dit graag aan 'n denominasie oorhandig wat die gebou steeds as Huis van die Here gaan gebruik.
"Die ideaal sal wees om dit aan 'n gemeente te kan oorhandig wat 'n saal vir eredienste gebruik."
Uys het aangedui dat hy eers met die kerkraad wil gesels en hoor of hulle dalk iets wil sê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’