OUDTSHOORN NUUS - Sowat 'n 100 gaste het Donderdag 22 April die Oudtshoorn-sakekamer se maandelikse netwerkaand bygewoon.
Dié aand is saam met Supa Quick se tiende verjaarsdag by hul besigheidsperseel in Voortrekkerweg gehou.
Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn-sakekamer, het in sy toespraak die Oudtled Taskforce-organisasie wat onlangs Die-ek-is Oudtshoorn-teken in Bridgton opgerig en ook bome geplant het, as spesiale gaste verwelkom.
Verteenwoordigers van HB Attorneys en MindCube is tydens die geleentheid as nuwe lede van die sakekamer ingehuldig.
Vorster het beklemtoon dat harde werk vir die Oudtshoorn-adviesraad voorlê wat onlangs deur die privaat sektor en munisipaliteit op die been gebring is.
"In ons eerste ontmoeting gister, was dit my waarneming dat ons die 2030-visie vir Oudtshoorn fatsoen moet gee met projekte wat relevant is - nie goed wat deur die munisipaliteit uitgedink is nie, maar projekte wat vir die gemeenskap van Oudtshoorn belangrik is. Tot nou toe was daar nog nie 'n formele struktuur waar daar boek gehou is van die energie wat mense van Oudtshoorn in projekte ingesit het nie. Die feit dat ons nou sekretariaat het in elkeen van ons nege pilare, beteken dat ons nou kan begin met 'n gedokumenteerde proses wat die inpak van ons mense se pogings in ons dorp kan vaslê sodat dit nie vergete gaan nie." Vorster het ook bygevoeg dat dit krities is dat besighede nou vir mekaar moet uitkyk.
Die gaste is na afloop van die formaliteite getrakteer met 'n heerlike braaiete.
Van links is Jaco van Zyl (MindCube), Jaco Vorster (voorsitter van die Oudtshoorn-sakekamer), Clara Boshoff (Supa Quick), Laurie Boshoff (Supa Quick), Werner Wernich (Supa Quick) en Helène Badenhorst (HB Attorneys). Foto: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'