OUDTSHOORN NUUS - Inwoners van Oudtshoorn, De Rust en Dysselsdorp word genooi om vanjaar weer aan die Wêreldopruimdag deel te neem.
Miljoene mense in altesaam 150 lande wêreldwyd neem jaarliks deel aan die internasionale skoonmaakaksie. Die doel van hierdie skoonmaakaksie is om rommel wat met riviere uit die binneland na die see gevoer word op te ruim voordat dit in die see beland.
Die rommel sluit onder meer plastieksakke wat net een maal gebruik word, kitskosverpakkings van polistireen, plastiekstrooitjies, koeldrank- en bierblikkies, sigaretstompies en -verpakkings, en weggooibabadoeke in.
“Die doel van die grootskaalse skoonmaakaksie is ook om mense bewus te maak van die omvang van besoedeling en die uitwerking daarvan op die mens en die aarde se gesondheid,” sê Susan Botha van Trapsuutjies-projekte wat die plaaslike skoonmaakaksie koördineer.
Navorsing het getoon dat rommel verskeie negatiewe uitwerkings op mense het:
- Dit is bewys dat mense wat in ‘n besoedelde omgewing woon, nie trots is op hul buurt of hul self nie, wat weer gekoppel word aan hoër misdaadsyfers.
- Gemors lei daartoe dat muise en rotte, wat siektes dra, in die vuil buurte kom nesmaak.
- Plastiek wat in die see beland, bedreig die seelewe en word ook weer in mikroskopiese dele deur mense wat seekos eet ingeneem.
Wêreldopruimdag vorm deel van die jaarlikse Wêreld-kusopruimingsdag, wat vir die eerste keer in 1996 in Suid-Afrika plaasgevind het. “Al die rommel wat opgetel word, word aangeteken en die inligting word na Plastics SA, wat die projek bestuur, gestuur vir ontleding,” sê Botha. “Die ontleding vorm deel van ‘n internasionale rommelverslag wat vroeg volgende jaar publiseer word.”
Enigiemand wat belangstel om deel te neem aan die skoonmaakaksie word genooi om deel te neem aan die groot skoonmaak wat op 14 September in De Rust en 19 September op Oudtshoorn plaasvind.
'n Inligtingsvergadering oor die skoonmaakprojekte word om 10:00 op 12 September op die eerste vloer van CapeNature se kantore agter die Queen Hotel gehou.
Kontak Marilize Beer by 065 801 4810 of marilizebeer@yahoo.ca (STET) of Susan Botha by 081 2484979 of sbotha0@gmail.com vir meer inligting en om deelname te bevestig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'