Update
OUDTSHOORN NUUS - Germaine Windvogel, een van die oorlewendes in die ongeluk wat verlede Maandag op die De Rust-pad plaasgevind het, sterk tans by die huis aan nadat hy veelvuldige beserings opgedoen het. Volgens hom is sy linkerhand vergruis, van sy ribbes is gekraak en hy het hoofbeserings ook opgedoen.
Tydens 'n onderhoud met die Oudtshoorn Courant het Windvogel gesê dat hy en vier vriende (Ivan Coetzee, Ernest Oktober, Jonathan "Tupac" Abrahams en Zachary Mashella) die betrokke Maandagoggend vroeg vanuit Oudtshoorn vertrek het om vir vriende in De Rust en Dysselsdorp met Coetzee se BMW X5 te gaan kuier.
Volgens Windvogel het hulle voor 12:00 die middag besluit om weer huiswaarts te keer.
"Ek het op die agterste sitplek in die middel gesit met Zachary en Tupac weerskante van my.
"Ek onthou dat hulle altwee se hande styf aan die boonste handvatsels van die agterdeure vasgeklem was. Toe ons deur die heining bars en die BMW sy eerste rol gee, het ek by die venster waar Tupac gesit het, uitgespring.
"Ek het my kop gekap toe ek tussen die bosse en klippe gerol het, maar tussendeur kon ek ook duidelik sien hoe Tupac en Zachery uit die rollende BMW geslinger word. My hart is seer omdat my vriende nie meer leef nie. Ek mis hulle al klaar," het Windvogel met trane in sy oë gesê.
Windvogel vertel dat die video wat versprei word duidelik wys hoe hy kreun vir hulp.
"Die vuilgoed op die toneel het hulle nie gesteur aan my krete nie. Ek het elke woord gehoor wat hulle op die toneel gepraat het.
"Dit was duidelik dat hulle gekom het om ons besittings te stroop.
Gelukkig kan ek hulle gesigte onthou en ek weet ook waar hulle bly. Sodra die polisie by my 'n draai maak sal ek alles aan hulle bekendmaak. Hulle het absoluut geen respek vir my of my oorlede vriende gehad nie."
Die ander oorlewende in dié ongeluk, Ivan Coetzee, is tans in die George-hospitaal en sou Maandag 'n skoueroperasie ondergaan het. Vyf van sy ribbes is ook volgens 'n familielid gebreek.
Hy kon dus nie die week met die Oudtshoorn Courant praat nie.
Die Oudtshoorn-polisie ondersoek tans 'n klag van strafbare manslag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'