OUDTSHOORN NUUS - As skryf in jou bloed is, kan jy nie anders as om stories uit te dink en neer te pen nie. En, as jou stories 'n keurproses oorleef het en jy het geduld om saam met 'n redakteur te skaaf en te karring, sit jy op 'n dag met jou eie boek in jou hande.
Dit is die geval met Maretha van der Westhuysen van 'n plaas buite Oudtshoorn.
Haar bundel met kortverhale, Deur haar venster, is verlede week deur Turksvy Publikasies uitgegee.
Sy het breed geglimlag toe sy Vrydagoggend haar pakkie boeke in Oudtshoorn ontvang het.
"Ek kan nie glo ek kan nou met 'n boek sit en dis my eie stories wat uit die bladsye met my praat nie." Alhoewel sy later 'n amptelike bekendstelling gaan reël het Van der Westhuysen Saterdag haar boek met lede van die Klein-Karoo Skryfforum gedeel.
Sy is reeds meer as vyf jaar deel van die skryfgroep en sê sy het in die vyf jaar slegs een opdrag gemis. "Die maandelikse opdragte is vir my goeie oefening en ek maak seker dat ek elkeen uitvoer, al kan ek soms nie self by 'n byeenkoms wees nie."
Sy het Saterdag vertel dat sy van kleins af 'n liefde vir boeke gehad het, en 'n gebeurtenis in Standerd vyf (gr. 7) het haar liefde vir taal nog meer gevestig. "Dit was die jaar van Afrikaans en die skoolhoof het my ouers laat weet ek moet tydens 'n seremonie 'n gedenkplaat vir Afrikaans by die skool onthul, omdat ek die skool se beste leering in tale was. Daardie dag het ek besluit tale is my ding!"
Na haar studies aan die Universiteit van die Vrystaat was sy 'n ruk lank 'n onderwyseres, maar toe het sy met 'n boer getrou en sedertdien is sy nog op die plaas. Sy vertel dat sy met die skryfgroep kennisgemaak het kort na haar man se dood. Op daardie stadium het sy reeds 'n boek geskryf oor die geskiedenis van die NGK Herold-gemeente. Sy het verlede jaar haar kortverhale aan Turksvy Publikasies voorgelê en na bykans vier maande se slyp en herskryf, is die boek 'n realiteit.
"Mense dink om 'n boek uit te gee is sommer gou-gou. Dit is 'n lang proses, veral as mens wil seker maak dit is jou beste wat jy op die rak wil hê."
Die verhale in die bundel is uiteenlopend, en alhoewel hulle deur die oë van 'n vrou geskryf is, is dit geensins 'n boek slegs vir vroue nie.
Die temas wissel van 'n sensuele Turkse bad, tot die selfdood van 'n kind, 'n plaasaanval en 'n besonderse woestynontmoeting. Van der Westhuysen se verhale het al pryse by nasionale skryfkompetisies gewen en een van die verhale in die bundel was ook gekeur vir die Woordfees se bundel wat jaarliks verskyn.
Deur haar venster kan per e-pos by Turksvy Publikasies bestel word by turksvypublikasies@gmail.com of direk by die skrywer by 083 632 3780.
Maretha van der Westhuysen en lede van die Klein-Karoo Skryfforum wat Saterdag reeds haar boek aangeskaf het. Van links is Antonie Verster, Endus Wessels, Petrus Cilliers en Coen Basson.
Behalwe vir skryf is Maretha van der Westhuysen ook 'n kranige orrelis. Hier is sy by die orreltjie in die klein kerkie op haar plaas.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'