Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Na 37 jaar se toewyding aan musiek pluk die Oudtshoorniet, Brain (oftewel Basjan) Niewoudt, nou die vrugte van sy toewyding. Niewoudt het verlede Woensdagaand 'n Ghoema-toekenning ontvang vir sy musiekalbum, Tuisgemaak, wat 18 snitte met boeremusiek bevat.
Met die Oudtshoorn Courant se besoek aan Niewoudt verlede Donderdag was hy nog besig om die goeie nuus te verwerk. Wat die toekenning so besonders maak is dat dit nie in 'n professionele klankateljee opgeneem is nie.
"Ek het in 2010 saam met oom Fred Rheeder, wat ek as een van die land se beste banjospelers beskou, 'n opname gemaak. Oom Fred is ongelukkig kort daarna in 2011 oorlede, ek het besig geraak met geestelike bediening en so het ons eerste opname op die agtergrond beland."
Sy vriend en medemusikant, Alan Ladd, het hom egter aangespoor om die projek te voltooi. Volgens Niewoudt het hy die opname van hom en oom Fred in 2017 begin verwerk en Tuisgemaak in sy huis opgeneem en verlede jaar vrygestel.
Dit was sy derde CD wat met sukses bekroon is. Twee van sy ander CD's met boeremusiek het goue status met verkope bereik.
Tuisgemaak was vir Ghoemas in die kategorieë beste album, beste groep en beste tradisionele album (boeremusiek) benoem. Hy het die Ghoema as beste tradisionele album gewen. 'n Kollega wat by Vonk Musiek betrokke is, het hom Woensdagaand uit Gauteng gebel om die goeie nuus oor te dra.
Kyk 'n video hieronder:
Niewoudt, wat 'n graad in teologie het, wy 'n groot deel van sy lewe aan geestelike bediening en hy het ook 'n orkes, Vrygekoop, wat geestelike musiek maak en geestelike uitreikings doen. Die talentvolle man is ook behendig met die kwas en het reeds ritse skilderye voltooi en verkoop. Hy skryf ook kortverhale en sketse wat reeds gepubliseer is en is 'n storieverteller van uitnemendheid.
Hy is tans besig om sy passie vir musiek, stories en mense saam te gooi in 'n projek waar hy in samewerking met ander musikante van die Weskus, toere gaan reël waartydens mense die "ware musikante wat dit vir die liefde doen" kan ontmoet.
Lees 'n vorige artikel: Oudtshoorn musikant wen Ghoema
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'