SUID-KAAP NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste kuier op 6 Mei om 09:00 in die Bahia Bleu Restaurant, Diaz Hotel, saam met sjef Lizelle Stolze van Serendipity in Wilderness.
Stolze het haar stempel stewig in die spysenieringswêreld afgedruk met 'n magdom toekennings wat onder andere insluit ses jaar onder die top-100 restaurante in die land; 10 jaar ontvanger van die American Express Platinum Fine Dining Restaurant-toekenning; van 2016 tot 2020 is sy vereer deur World Luxury Restaurants Award Winner: Serendipity Top Global South African Restaurant; en sy was ook al een van die top-10 sjefs in die land (SA Toerisme).
Die geskiedenis van Marokko reflekteer in die kookkuns en die warm geure vertel van hulle interaksie met verskillende beskawings.
Stolze het onderneem om die fynproewers en hulle gaste hieraan bloot te stel deur die volgende geregte te demonstreer: Sabzi Khordan (Persiese kruiebord), Mirza Ghasemi- eiervrugsmeer, Getrekte lam met jogurt en Granaat, Shirazi-slaai, Tachin-saffraanrys, Persiese liefdeskoek, en handgetrekte katoenlekkergoed pashmak.
Hierdie geregte sal bedien word met bypassende wyne om die beste uit die geure te kry. Dit gaan 'n besondere oggend wees waartydens een van die land se topsjefs lede die fynere kunsies van Marokkaanse geure en speserye leer. Gaste en voornemende nuwe lede is hartlik welkom.
Indien jy belangstel om dit by te woon, kontak Santie van Vuuren by 082 461 0777.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'