CALITZDORP NUUS - 'n Vrou wat twee jaar gelede na Calitzdorp verhuis het, het 'n sopkombuis met 'n verskil begin.
Daar word vir die sop "betaal" met 'n sak herwinbare afval.
Trudy van Niekerk sê sy wou 'n manier vind om iets aan die armoede in die gemeenskap te doen. Met die toestemming van die NG kerk het sy die gebruik van die kerk se kombuis bekom waar sy een keer per week sop vir ongeveer 50 mense voorberei.
Aan die begin het sy die bestanddele uit haar eie sak aangekoop, maar geleidelik het inwoners en besighede hulle harte oopgemaak en begin bydra. Die sop word op die kerk se stoep bedien, maar daar is 'n voorwaarde verbonde; mense wat 'n beker sop en 'n broodjie wil geniet word gevra om as "betaling" 'n sak herwinbare afval saam te bring en op dié manier bydra om die omgewing op te ruim.
Van Niekerk sê daar is ander projekte op die dorp ook en dit is vir haar verblydend om te sien hoeveel mense bereid is om iets te doen om in die basiese behoeftes van ander te voorsien.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'