OUDTSHOORN NUUS - Enslin Tarentaal (30), talentvolle musiekvervaardiger van Calitzdorp se droom om 'n professionele klankateljee op die been te bring, het onlangs 'n stewige hupstoot gekry toe 'n weldoener duur toerusting aan hom geskenk het.
Volgens Tarentaal, wat in 2019 na Oudtshoorn verhuis het, sal hierdie toerusting nie net help om beter kwaliteit klank te verskaf nie, maar ook om addisionele dienste te verrig wat sy platemaatskappy (Serenity Music Record Label) se finansiële volhoubaarheid sal verseker.
"Ek en my vrou, Glenisha, het natuurlik ook van die hoofkomponente in die studio uit eie sak gekoop om ons droom uit te leef. In besonder wil ons Melda Pietersen, Barry McGurk en Theresa Josephs bedank vir hul ruim bydraes deur die jare. Met my jarelange ondervinding as producer en sanger stel dit ons nou in staat om artists van verskillende genres te sign, hul liedjies te bemark, en ook om gehalte beats te maak terwyl Glenisha die administratiewe take verrig. Op die oomblik help ons ook opkomende kunstenaars met die legal aspects ten opsigte van die musiekbedryf asook foto's- en musiekvideo sessies."
Tarentaal sê sy platemaatskappy het onlangs aan 'n opwindende projek gewerk waartydens sy vrou en die plaaslike sangeres, Lesinda Stalmeester, 'n Switserse liedjie se lirieke moes vertaal. Na die vertaalproses het Serenity Music Record Label die musiekvideo geskiet met Lesinda wat dié liedjie getiteld, Ewige Liefde, vertolk.
Glenisha vertel dat dit nie 'n maklike proses was nie: "Alhoewel dit uitdagend was om emosie van 'n vreemde taal in jou moedertaal uit te druk, het ons dit vreeslik geniet. Baie Switserse woorde het net nie sin in Afrikaans gemaak nie, maar gelukkig het ons deurgedruk totdat ons tevrede was dat die korrekte boodskap aan die luisteraar oorgedra word. Tegnies moet ek en Lesinda eintlik krediet kry as liedjieskrywers," skerts sy.
Tarentaal sê dat hy ondanks die huidige Covid-19-pandemie opgewonde is om sy kennis van die musiekbedryf aan die gemeenskap oor te dra.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'