OUDTSHOORN NUUS - 'n Dispuut tussen die CP Nel-museum en die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat al bykans drie jaar duur, is verby.
So het Liwa Gunguluza, nuwe voorsitter van die museumraad, Woensdagoggend bevestig na 'n suksesvolle vergadering Dinsdagaand.
Die nuwe raad is verlede jaar November aangestel. Daar was ook verskeie kere beswaar gemaak oor die vorige raad wat nie verteenwoordigend van Oudtshoorn se demografie is nie. Die munisipaliteit het November verlede jaar 'n uitsettingsbevel teen die vorige raad van die museum beteken.
Lede wat op die nuwe raad dien is, Gunguluza, Johan Dupisani, Langa Njoko, Herman Labuschagne, Felicity Magxaka, Johan Fourie, Moses Mthethwa, Lorelle Hutton en Jerome Lambaatjeen.
Die dispuut het onder andere gehandel oor die verhuring van die gebou waar die toerismekantoor tans geleë is. Die gebou was ook waar die kantore van die besigheidskamer en Agri-vereniging was.
Oudtshoorn Courant het in 2021 reeds berig dat die gebou waarin die toerismekantoor geleë is, aan die munisipaliteit behoort, maar deur die museum aan toerisme onderverhuur word. Die museumgebou is ook die munisipaliteit se eiendom, maar word aan die museum verhuur. Die museum het probeer om huurders uit die toerismegebou te sit en die besigheidskamer en Agri-vereniging, wat ook in die toerisme gebou geleë was, het reeds na 'n ander perseel verhuis.
Oor die laaste paar jaar het verskeie hofsake oor die uitsetting gevolg.
Verlede week het die munisipaliteit die kragtoevoer na die museum afgesit weens agterstallige betaling. Die museum het op hul Facebook-blad bekendgemaak dat die museum tydelik gesluit gaan wees tot die kwessie uitgesorteer is.
Gunguluza sê hy het egter besluit dat dié situasie nie kan voortgaan nie.
"Die museum is deel van die toerisme van die dorp. Die munisipaliteit, museum, toerismekantoor en besigheidskamer is veronderstel om saam te werk en nie teen mekaar te werk nie. Die bakleiery was totaal onnodig. Die hofsake het ook onnodig baie geld gekos. Die geld kon eerder vir verbetering van die dorp of toerisme gebruik geword het." Hy het bygevoeg dat 'n algemene jaarvergadering gehou gaan word sodra die finansiële verslae geoudit is.
Volgens burgemeester Chris Macpherson is hy vol vertroue dat die kwessies tussen die museum en die munisipaliteit bygelê is na afloop van 'n onlangse gesprek met die nuutverkose raad van die CP Nel-museum en 'n vergadering van die museumraad Dinsdagaand.
Die burgemeester het Woensdagoggend gesê: "Ek is verheug dat die nuwe museumraad met ons in gesprek getree het en die onderneming gegee het dat daar 'n nuwe era van samewerking tussen die museum en die munisipaliteit betree word. Die museum behoort aan Oudtshoorn en moet tot voordeel van Oudtshoorn bestuur word. Daar word binnekort 'n formele gesprek tussen die museumraad en die munisipaliteit gehou waartydens die pad vorentoe bespreek gaan word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’