OUDTSHOORN NUUS - Tydens die gedeelte van Vrydag se raadsvergadering wat in komitee plaasgevind het, het raadslede 'n besluit geneem om die munisipale bestuurder, Allen Paulse, te verwittig dat hy tydelik geskors gaan word.
Volgens inligting wat aan die Oudtshoorn Courant gegee is, het Paulse 7 dae om redes te verskaf waarom hy nie geskors moet word nie.
Die Oudtshoorn munisipaliteit, die kantoor van Anton Bredell (provinsiale mnister van plaaslike regering) en die Wes-Kaapse woordvoerder van die DA het teen vanmiddag nog nie reageer op dringende vrae wat aan hulle gestuur is nie.
Alhoewel die vergadering nie oop was vir die publiek of die media nie, het inligting uit verskeie bronne na vore gekom wat daarop dui dat nie al die DA raadslede die besluit om Paulse te skors, gesteun het nie. Geen opposisie raadslid het dit glo ook gesteun nie.
Hierdie verwikkeling blyk gerugte van 'n tweespalt onder DA raadslede, te bevestig.
Nog 'n verrassing van Vrydag se vergadering was die skielike besluit van opposisie-raadslede om 'n mosie van wantroue in die DA speaker te onttrek.
Met 'n vorige spesiale raadsvergadering het Icosa en Sarco raadslede daarop aangedring dat die speaker hulle moet toelaat om die mosie te laat dien. Hulle het Vrydagoogend nie redes gegee waarom die mosie onttrek is nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'