Gallery
OUDTSHOORN NUUSFLITS - 'n Groep munisipale werkers is waarskynlik die helde van die dag na hulle vroeër vanoggend 'n vermeende skelm vasgetrek het wat 'n bejaarde man in Hoogstraat beroof het.
Volgens Desiree Minnies, een van die munisipale werkers, was sy en haar kollegas op pad werk toe, toe hulle glo gesien het hoe die jong man voor Baron's Palace in Hoogstraat vir Willem Minnies (76) pootjie en sy besittings steel.
"Ons het nie eens twee keer gedink nie. Ons het die skelm te voet agterna gesit. Ons het hom in Van der Rietstraat afgejaag en hom in Baron van Reede geduik. Hy wens seker vandag hy het nooit ons groep vroue teë gekom nie," vertel sy.
Volgens haar het hulle die bejaarde man se beursie, ID en Sassa-kaart terug gekry.
"Die oom sê daar was R110 in sy beursie, maar ons kon nie die geld terugkry nie," het sy gesê.
Ongeveer 'n halfuur later het munisipale wetstoepassers 'n man vasgetrek wat glo by 'n supermark gesteel het.
Volgens een van die sekerheidswagte het die man in die koeldrankrak gestaan en items in sy broekspype versteek. Dit is egter nie bekend wat hy gesteel het of hoeveel items gesteel is nie.
Lees die volledige storie oor die heldedade in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
Die helde van die dag.
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'