OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit se half-jaarlikse aanpassingsbegroting vir die finansiële jaar van 2022/2023, is tydens 'n spesiale raadsvergadering op 28 Februarie eenparig deur die raad goedgekeur.
Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, het tydens die voorlegging van die begroting gesê dat munisipaliteite regoor die land enorme finansiële uitdagings in die gesig staar weens voortdurende beurtkrag.
Macpherson het verder aangevoer dat beurtkrag in Oudtshoorn, alleen verantwoordelik is vir 'n verlies aan begrote inkomste aan die munisipaliteit van meer as R23 miljoen, aangesien verbruikers minder elektrisiteit gebruik. Die feit dat minder grootmaat elektrisiteit by Eskom aangekoop word, het tot dusver ook tot gevolg gehad dat R1,6 miljoen se afslag verlore gegaan het.
"'n Verdere verlies aan inkomste van R12,2 miljoen is deur die aangepaste sanitasie tariewe meegebring en bedryfsuitgawes het weens verskeie faktore met R26,3 miljoen toegeneem."
Werknemerverwante koste het met
R2 miljoen gestyg. 'n Drastiese toename in behoeftige-registrasies asook skuld wat afgeskryf moes word het 'n toename in uitgawes van meer as R22 miljoen getoon.
Macpherson, het bygevoeg dat die skokkende werklikheid van vandalisme en diefstal wat landwyd hoogty vier, die Oudtshoorn-munisipaliteit 'n verdere
R4,1 miljoen aan herstelwerk en vervanging van infrastruktuur gekos het. Kabels, meters asook skakelaars van straatligte word daagliks gesteel en moet vervang word.
Macpherson doen 'n beroep op die gemeenskap om waaksaam te wees en enige gevalle van vandalisme of verdagte aktiwiteite onmiddellik by die polisiestasie aan te meld of die munisipale beheerkamer by 044 203 7800/7801 of 063 651 4675/ 063 651 4676 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'