Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige Oudtshoorn munisipale klerk, Thandile Wilbarforce Salman, is in die Bellville-handelsmisdaadhof tot nege jaar gevange-nisstraf gevonnis. Drie van die nege jaar is opgeskort.
Vonnisoplegging het op 28 en 29 Augustus plaasgevind. Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Allen Paulse, het Maandag voor landdros Sabrina Sonnenberg getuig dat die Oudtshoorn-munisipaliteit twee keer onder administrasie geplaas moes word, weens bedrog, wanbestuur en korrupsie.
Salman was 'n klerk in die menslike hulpbronbestuur kantore van die munisipaliteit.
Hy is in 2012 deur die Valke in hegtenis geneem na 'n ondersoek deur die handelstak.
Hy het onwettig pro forma fakture en kwotasies bekom en die dokumentasie voorgehou as wettige kwotasies en fakture van diensverskaffers en geld daarvoor geëis.
Hy is op Dinsdag 25 Julie op vyf aanklagte van bedrog en geldwassery skuldig bevind. Volgens kaptein Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, is die geldwaarde van die bedrog transaksies R409 823,13.
"Die geld wat Salman deur middel van die bedrog bekom het, is in familie en vriende se bankrekeninge oorgeplaas."
Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylves-ter, het die vonnis verwelkom. "Die vonnis moet as waarskuwing dien vir ander munisipale amptenare om weg te bly van korrupsie en hul werk te doen soos die gemeenskap verwag hulle moet dit doen. Al neem dit jare om te gebeur, sal geregtigheid geskied."
'n Voormalige Oudtshoorn munisipale bestuurder, Noël Pietersen, is vroeër vanjaar daaraan skuldig bevind dat hy die munisipale bestuurs-wet oortree het.
Pietersen is vyf jaar gevangenisstraf opgelê, maar is op borgtog vrygelaat, hangende die uitspraak van sy appèl teen sy skuldigbevinding én vonnis.
'n Nasionale koerant het Maandag berig dat 'n ander voormalige Oudtshoorn munisipale bestuurder, Ronnie Lottering, ook skuldig bevind en gevonnis is.
Die huidige munisipale bestuurder, Allen Paulse, het egter aangedui dat die inligting verkeerd is.
"Die polisie-ondersoek teen Lottering is voltooi en die dossier sal nou voor die staatsaanklaer dien vir 'n beslissing of hy aangekla gaan word."
Lees 'n vorige artikel: Voormalige munisipale amptenaar gevonnis
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'