OUDTSHOORN NUUS - Dit is verstommend om te sien hoe motoriste sperstrepe ignoreer en dan die skuld van botsings op die pad plaas.
Dit was die reaksie van Gerald Becker, provinsiale verkeershoof van die Suid-Kaap en Klein-Karoo toe foto's van oortreders aan hom gewys is.
Die Oudtshoorn Courant het verlede Vrydag en eergister by Chandelier Wildsplaas se ingang foto's geneem van motoriste wat die sperstreep ignoreer en selfs met aankomende verkeer in aantog, verbysteek.
Vrydag het twaalf motoriste binne 'n uur die sperstreep verontagsaam en Woensdag was daar sewe oortreders binne 45 minute.
Foto's waarop registrasienommers leesbaar is, is aan Becker gegee wat onderneem het om dit op te volg.
"Ek wens meer mense wil op 'n veilige manier vir ons sulke inligting stuur.
"Ons het slegs twee voertuie per skof op die pad wat vier hoofroetes insluit, en inligting van die publiek is vir ons van groot hulp," het hy Woensdag gesê.
Becker sê wat vir hom skokkend is, is die feit dat 'n groot aantal oortreders Oudtshoorn en George registrasienommers het.
"Dis mense wat kla oor die gevaarlike pad, wat weet van die groot aantal ongelukke en die pad elke dag gebruik. Dis nie die pad wat gevaarlik is nie, dis die bestuurders se gedrag."
Die pad tussen Oudtshoorn en George en die een tussen Oudtshoorn en De Rust dra daagliks swaar verkeer.
'n Verdere komplikasie wat groter geduld en verdraagsaamheid van motoriste verg is die padwerke wat tans tussen Oudtshoorn en De Rust plaasvind.
"Die padwerke is noodsaaklik, want daardie pad is in 'n uiters swak toestand. Motoriste moet net eenvoudig hulle gedrag verander," het Becker gesê.
Hy het daarop gewys dat padwerke op die besige grottepad ook 'n aanvang geneem het.
Volgens hom sal die padwerke vir 'n aantal weke tydens die Kersseisoen gestaak word.
Daar is ook goeie nuus vir mense wat Prins Albert via die Swartbergpas wil besoek.
Die pas sal van vandag af elke naweek vanaf Donderdagaand om 17:00 tot Maandagoggend 07:00 vir verkeer oopgestel word.
Die pas is sedert 'n vloed in April gesluit vir herstelwerk.
Lees 'n vorige artikel: Kommer oor padwerke
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'