OUDTSHOORN NUUS - Motoriste wat by beheerpunte tussen Oudtshoorn en De Rust moet wag, se geduld word nie slegs deur die vertraagde padwerke getoets nie, maar ook deur kinders wat bedel.
Volgens oproepe aan die Oudtshoorn Courant en plasings op Facebook, is dit 'n probleem wat sommige dae ernstig is. Dit is veral by die beheerpunt net buite Oudtshoorn naby Rose Valley, waar die probleem voorkom.
'n Motoris het verlede week gesê sy het by een van die personeellede wat by die beheerpunt werk gekla oor die kinders wat aan haar motor se vensters klop en geld vra. Volgens haar het die werker gesê hulle kan nie veel doen nie, want die kinders hardloop eenvoudig net 'n ent weg om by ander motors te bedel.
Donderdagmiddag, omstreeks 17:15 was 'n groep van vyf kinders binne minute by die beheerpunt nadat 'n aantal motors stilgehou het om vir aankomende verkeer te wag. Een van die beamptes wat met 'n vlag motors reguleer, het die kinders probeer verjaag, maar hulle het in twee groepies opgebreek en na die motors teruggekeer toe die vrou haar pligte moes gaan uitvoer.
Twee van die kinders het aanhoudend aan een motor se venster geklop en eers opgehou toe dit blyk dat die bestuurder wou uitklim.
'n Navraag oor die situasie is aan die departement van vervoer en openbare werke gestuur aangesien hulle in beheer is van die opgradering van die pad. Die departement se woordvoerder, Byron la Hoe, het in reaksie gesê dat die kwessie waarskynlik deur die departement van gemeenskapsveiligheid en maatskaplike ontwikkeling hanteer moet word.
Hy het egter ook gesê dat die probleem onder die aandag van die nuutaangestelde kontrakteur gebring is.
Die kontrakteur het onderneem om meer personeel by die punt aan te stel, maar volgens La Hoe is die slegs 'n tydelike maatreël. Een van die vlagmense het gesê hulle is bekommerd oor die kinders se veiligheid aangesien hulle heen en weer oor die pad hardloop en in die pad van aankomende verkeer kan beland.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'