Update
DE RUST NUUS - 'n Inwoner van De Rust sê dit is bloot genade dat hy nie beseer is toe sy motor Sondagmiddag in Meiringspoort gerol het nie.
Jean-Pierre Makier was omstreeks 15:30 deur Meiringspoort onderweg na sy huis, toe sy Opel Corsa in 'n draai omgeslaan het en aan die oorkant van die pad op die wiele te lande gekom het.
Die motor het oor 'n groot rots gerol wat langs die pad gelê het. Een van die motor se agterwiele het vermoedelik losgekom wat veroorsaak het dat die motor dwars gedraai en gerol het. Daar was op daardie stadium nie aankomende verkeer nie.
Hy kon uit die motor klim en het 'n paar honderd meter teruggestap na een van die netjiese stilhouplekke in die poort waar 'n kollega van hom aan diens was. Hulle werk vir die maatskappy wat die piekniekplekke en die pad deur die poort skoon en netjies hou.
Makier is met een van die maatskappy se voertuie De Rust toe geneem om die polisie te verwittig en 'n insleepdiens te reël aangesien daar nie 'n selfoonsein in dele van die poort is nie.
Sy kollega, Samuel, het met 'n rooi vlag by die ongelukstoneel gaan staan en aankomende motoriste gewaarsku totdat die polisie opgedaag het.
Makier het Sondag op Oudtshoorn Courant se Facebook-blad gesê: "Ek's die persoon wat in die ongeluk was en ek wil net sê dat ek geen beserings opgedoen het nie. Die Here was met my."
'n Werknemer, Samuel, wat by een van die stilhouplekke in Meiringspoort diens doen, op die toneel waar hy verkeer gewaarsku het nadat die ongeluk plaasgevind het.
Vorige artikel: Bestuurder ongedeerd na motor rol
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'