Die streek se Toy Run word jaarliks deur die SWDMCA (South Western Districts Motor Cycle Association) aangebied en vind om die beurt in Knysna, George, Mosselbaai en Oudtshoorn plaas. Toy Runs word regdeur die land en ook internasionaal deur motorfietsgeesdriftiges aangepak om rondom Kerstyd speelgoed aan minderbevoorregte kinders uit te deel.
Die groot groep motorfietse van oor die hele Suid-Kaap het by die Queens Mall bymekaargekom en om 10:30 'n massarit deur Bridgton, Bongolethu en 'n gedeelte van die dorp onderneem. In Bridgton en Bongolethu het honderde mense op sypaadjies saamgedrom om die groot gebeurtenis van honderde brullende kragperde te aanskou. Sommige geesdriftiges het vir ente met hulle fietse agter die motorfietse aangetrap.
Die massarit is by die De Jager-sportterrein afgesluit waar bykans 50 kinders van die Sonneblom-voorskoolsentrum in Rose Valley vermaak is. Lede van die Set Free Ministries-gemeente in Groot-Brakrivier het die kleintjies laat sing, spring, balskop, teken en laat stilsit om hulle gesiggies te laat verf. Die grootste gedeelte van die speelgoed wat ingesamel is, is bestem vir Sonneblom terwyl items wat vir groter kinders geskik is aan Huis Triomf, waar straatkinders gehuisves word, uitgedeel sal word.
Die president van SWDMCA, Chris van Rensburg, wat ook die pastoor by Set Free Ministries is het gesê dat Sondag se Toy Run baie groter was as die vorige paar. "Mens kan nie glo dat ons streek se Toy Run in 1988 met net sewe motorfietse begin het nie. Sondag se saamtrek was 'n wonderlike sukses," het hy Maandag gesê.
Motorfietsryers van alle ouderdomme op masjiene van alle groottes het Sondag min erg gehad aan wie op wat ry, vir elkeen het die dag oor geskenke vir kinders gegaan en 'n hele paar motorfietsryers het hulle eie kinders, een van slegs drie jaar oud saamgebring vir die rit.
"Die Toy Run het net weer gewys hoe uiteenlopend motorfietsryers is. Daar was ryers van verskillende klubs, skoolkinders met bromponies en ouens wat nie aan klubs behoort nie, maar net mal is oor motorfietsry," het Van Rensburg gesê.
Die dag is afgesluit met speletjies vir volwassenes en kinders en daar was 'n lang tou ryers wat Toy Run kentekens gekoop het om aan reeds volgespelde onderbaadjies aan te bring.

Lede van die SWD Motorfietsassosiasie saam met personeel en 'n groepie leerders van Rose Valley se Sonneblom-voorskool by Sondag se verrigtinge by die De Jager-sportterrein. Sowat 50 van die kleingoed is daar onthaal en die grootste gedeelte van die speelgoed is aan die voorskooltjie se bykans 90 kinders geskenk. Foto: Hannes Visser.