Marchant Maasdorp was Woensdag in Oudtshoorn om 'n groep motorfietsryers hier te begelei om skryfbehoeftes aan ongeveer 500 kinders by vier landelik skole te gee.
Hy vertel dat hy in 2008 op 'n alleenrit met sy BMW motorfiets vanaf George na Kairo gery het. "In Malawi het ek 'n onderwyseres gesien wat in die vlakte onder 'n boom vir kinders klas gee. Dit het my diep getref en toe ek in die klein dorpie daar naby kom het ek al die skryfboeke in 'n winkeltjie gekoop en aan die kinders gaan uitdeel. Die reaksie was ongelooflik en daar het ek besef wat 'n boek of 'n potlood of 'n inkleurkryt vir 'n kind wat niks het nie beteken."
Terug in Suid-Afrika het Marchant met die prentjie van die kinders onder die boom in sy kop rondgeloop en so is Stationery4Africa gebore. Die afgelope twee jaar het hy deur borgskappe en skenkings en saam met mede-motorfietsgeesdriftiges skryfbehoeftes aan meer as 4 000 kinders uitgedeel.
Hierdie jaar het hy besluit om die projek uit te brei, nie net na Oudtshoorn nie, maar landwyd. Woensdagoggend het hy en sewe motorfietsryers van Oudtshoorn hulle motorfietse se bagasiesakke vol skryfbehoeftes geprop en vier skole buite Oudtshoorn besoek.
"Ek is besig om Stationery4Africa as 'n nie-winsgewende maatskappy te registreer en is baie opgewonde dat motorfietse vanjaar nie net in die Tuinroete nie, maar in 'n hele klomp dorpe oor die land kinderharte gaan bly maak met skryfbehoeftes," het Marchant beskeie gesê terwyl die kleuters van Pierewiet Speelskool vir die besoekers 'n liedjie gesing het.
Mense wat belangstel in hierdie projek en wil deel word daarvan hetsy deur net saam te ry of skenkings te gee kan gerus die webtuiste stationery4africa.com besoek.
Die kinders was gretig om hulle pakkies te ontvang en na die motorfietse te loer, alhoewel hulle bietjie huiwerig was om nader te staan toe die enjins begin brul.
'n Paar van die kinders van Pierewiet Speelgroep by Volmoed en hul personeel by die motorfietsryers wat vir elke kind 'n geskenkie gegee het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'