Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Meer as 100 motorfietsryers en -entoesiaste van oor die hele Suid-Kaap het Sondag in Oudtshoorn bymekaargekom vir die jaarlikse Blanket Run.
Volgens David Herring, president van die Warlocks-motorfietsklub, is die Blanket Run reeds 41 jaar gelede deur die Christian Motorcycle Association (CMA) begin en word daar jaarliks landwyd duisende komberse en warm kledingstukke aan hulpbehoewende mense uitgedeel.
"Warlocks het drie jaar gelede by die inisiatief betrokke geraak en het die CMA vanjaar met die projek bygestaan," sê hy. Volgens hom is motorfietsklubs gereeld bereid om by liefdadigheidswerk betrokke te raak. "Sommige klubs is klein en dan val hulle by groter klubs se projekte in, maar oor die algemeen is motorfietsryers se harte oop vir die behoeftes van ons gemeenskap."
Ongeveer 100 motorfietse het Sondagoggend vanaf 10:30 in Baron van Reedestraat by die Cape to Londen Restaurant saamgekom. Vandaar is die groep na Gottland House en na Coronation Memorial Home waar komberse en warm klere aan bejaardes gegee is.
Fotogalery: Blanket Run in Oudtshoorn
Die Blanket Run word elke jaar na 'n ander dorp in die streek onderneem. Vanjaar was dit Oudtshoorn se beurt en volgende jaar is dit George.
Daar word ook elke jaar om die beurt na bejaardes en kinders uitgereik, verduidelik Herring.
Behalwe vir hulle deelname aan die Blanket Run, het motorfietsgroepe soos die CMA, die Warlocks en 'n hele aantal ander klubs sowel as motorfietsryers wat nie aan klubs behoort nie, reeds verskeie ritte na Oudtshoorn onderneem om projekte te ondersteun. Van die ritte was ten bate van diereorganisasies en ook op uitnodiging van mense wat spesifieke gemeenskapsprojekte in die Klein-Karoo koördineer.
Een van die ritte was byvoorbeeld verlede jaar op 28 Junie op uitnodiging van Bennedette Landman, die Oudtshoorniet wat in 2020 een van Suid-Afrika se finaliste in Mev. Heelal was. Meer as 150 motorfietse het aan die rit deelgeneem om bewusmaking te skep vir optrede teen die geweld teen vroue en kinders.
Verskeie motorfietsklubs het aan Sondag se Blanket Run deelgeneem.
Motorfietse op die parkeerterrein van die Oudtshoorn Inn langs Cape to London Restaurant.
Personeellede van Gotland House ontvang skenkings.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'