Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Sanelle Steyn (38), die bestuurder van 'n VW Golf wat Sondagoggend in die Swartbergpas oor 'n afgrond gery het, is na behandeling in die Mediclinic George dieselfde dag ontslaan.
Sy is met die AMS-noodhelikopter by die ongelukstoneel gehaal en na George geneem.
Nooddienswerkers en die AMS-noodhelikopter is ontbied nadat verbygangers die wrak sowat 25m onder die pas sien lê het. Lana Laubscher en Zané Coetzee, beide biokinetikusse van George, was saam met Lana se pa, Steyn Laubscher op die pas toe hulle die VW Golf in die veld sien lê.
Volgens Steyn het hulle aanvanklik gedink dis 'n leë wrak, maar sy dogter het toe gesien daar is iemand in die motor. "Terwyl hulle (Zané en Lana) na die wrak afgeklim het, het ek omgedraai om van Kobus se Gat af hulp te ontbied, maar toe tel een van ons selfone 'n sein op."
Terwyl hulle vir die nooddienste gewag het, het die twee vrouens Sanelle ondersteun. Sy was by haar bewussyn en was alleen in die motor.
Haar man en seun het by die toneel aangekom kort voordat sy in die helikopter gelaai is. Die helikopterloods moes sterk wind trotseer en het verskeie kere oor die toneel gehang om eers 'n paramedikus en later 'n harnas te laat sak. Die helikopter het 'n ent bokant die toneel op gelyk grond geland terwyl Steyn uit die wrak gehaal is en in die harnas vasgemaak is voordat die helikopter haar kon oppik.
Die beseerde Sanelle Steyn hang in 'n harnas langs die helikopter kort voordat sy na George geneem is. Foto's: Hannes Visser
Dit is nie duidelik wat die oorsaak van die ongeluk was nie aangesien die motor die pad op 'n reguit gedeelte verlaat het voordat dit aan die regterkant van die pas af is. Steyn was uit die rigting van Prins Albert onderweg toe die botsing ongeveer 2 km voor die einde van die pas aan Oudtshoorn se kant plaasgevind het.
Die Steyns woon op 'n plaas buite Oudtshoorn.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Noodhelikopter by ongeluk op Swartbergpas
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'