Update
OUDTSHOORN NUUS - Die eienaar van 'n gastehuis op die hoek van Buitekant- en Kerkstraat was Sondag geskok toe 'n motor die tuinmuur te pletter ry waar sy vroeër die oggend nog in die tuin gewerskaf het.
"As ek nog daar was toe die motor die muur getref het, was ek seker dood," het sy Sondag net na die botsing gesê.
Volgens haar was sy aan die agterkant van die huis toe sy 'n geweldige slag hoor.
"Ek het om die huis gehardloop en die silwer kar in ons voortuin sien staan. Daar was twee mans weerskante van die kar, maar die een aan die passasierskant het die pad gevat toe ons die polisie bel," het sy gesê.
Volgens die ander persoon wat op die toneel agtergebly het, het hy met Buitekantstraat langs gery en glo vir 'n hond uitgeswaai en die muur getref. Die motor het in die erf tot stilstand gekom met dele van die muur wat op die kattebak beland het.
Niemand is in die botsing beseer nie en, alhoewel verskeie polisievoertuie by die toneel stilgehou het, was die verkeersafdeling nie daar nie.
Die persoon wat aangedui het dat hy die bestuurder van die motor was, het op die toneel aan polisielede erken dat hy sonder 'n geldige rybewys bestuur het, aangesien sy rybewys teruggetrek is. Die rede vir die terugtrekking is nie gegee nie.
Die polisie het egter op die toneel aangedui dat daar nie met sekerheid bevestig kon word dat die spesifieke persoon die voertuig bestuur het nie.
In reaksie op 'n navraag aan die polisie het sers. Gretchen Michaels die botsing bevestig en gesê geen klag word ondersoek nie.
'n Tweede navraag met vrae rondom die omstandighede van die botsing en moontlike optredes, is deur Oudtshoorn Courant gestuur.
Michaels het onderneem om meer inligting by die beampte wat in beheer van die toneel was, te kry.
Dele van die muur het op die motor te lande gekom toe dit deur die muur gebars het.
Vorige artikel: Motor bars deur muur
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'